Die “Corps Pandoeren”, 1793–1795: Krygers ter verdediging van die Kaapkolonie teen die einde van die Nederlandse bewind

The Pandour Corps, 1793–1795 : Soldiers in defence of the Cape Colony towards the end of Dutch rule

  • Johan De Villiers Universiteit van Zoeloeland
Keywords: Pandoer, Khoekhoen, Snaphaanen, Jan Cloete, Muysenburg, Steenberg, Skermutselinge, Sluysken, Opstand, Tydgenote

Abstract

Hierdie artikel belig die stigting en rol van die “Corps Pandoeren” aan die Kaap in die jare 1793–1795. Dit was ’n voordelige manier om die Kolonie te versterk teen ’n moontlike buitelandse vyand. Die korps is saamgestel uit weerbare manlike Khoekhoen en persone van gemengde afkoms wat vertroud was met die gebruik van ’n skietgeweer. Die offisiere was afkomstig uit ervare lede van die burgermag met Jan Cloete in 1795 as kommandant. 

Die pandoere is as ligte infanterie operasioneel aangewend nadat ’n Britse besettingsmag in Junie 1795 in Simonsbaai aangekom het. Na die Britse aanslag op die Kompanjiespos Muysenburg (vandag Muizenberg) het die pandoere in samewerking met die burgerkavallerie by verskillende geleenthede sukses behaal as onkonvensionele of guerillavegters teen die vyand. Die ongevalle aan die kant van die pandoere was beperk, maar op 1 September het ontevredenheid in eie geledere  gelei tot ’n opmars van gewapende pandoere vanaf Steenberg na die Kasteel in Kaapstad. Kommissaris Sluysken het hulle gemoedere kalmeer deur beloftes van beter onderhoud en twee stuiwers aan elkeen geskenk. Daarna was die dissipline en betroubaarheid van die pandoere in die weegskaal. Tog het tydgenootlike waarnemers, met enkele voorbehoude, groot lof vir die korps as ’n effektiewe gevegseenheid gehad.

Author Biography

Johan De Villiers, Universiteit van Zoeloeland

Navorsingsgenoot, Universiteit van Zoeloeland, Durban, Suid-Afrika

Published
2020-03-31
Section
Navorsings- en Oorsigartikels