Die veranderende wêreld van Afrikaanse dramavertalings en -verwerkings: Enkele opmerkings

The changing world of Afrikaans drama translations and adaptations: A few remarks

  • Marisa Keuris Universiteit van Suid-Afrika
Keywords: dramavertalings, dramaverwerkings, Afrikaanse teatergeskiedenis, Afrikanernasionalisme, TRUK, KRUIK, SUKOVS, NARUK, SWARUK

Abstract

ʼn Historiese oorsig van die rol wat vertaling (asook verwerking) binne die Afrikaanse dramaen teatertradisie gespeel het – en nog steeds speel – kan onmoontlik gegee word in die bestek van ʼn enkele artikel. Daarvoor is die omvang van ʼn doktorale studie waarskynlik nodig – of selfs van verskeie studies.

In hierdie artikel lig ek slegs enkele aspekte uit wat my opval binne hierdie tradisie:
(1) Die groot rol wat dramavertalings gespeel het in die vroegste vestiging van ʼn Europese teater in Suid-Afrika waaruit die Engelse en Afrikaanse toneeltradisies ontstaan en ontwikkel het;
(2) Die duidelike verbintenis tussen Afrikaanse dramavertalings en -verwerkings met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal (van sy vroegste jare af tot met sy vestiging as amptelike taal in 1925 en die dekades daarna, asook tydens die hoogbloei van Afrikanernasionalisme in die vyftiger- tot tagtigerjare van die 20ste eeu); en 
(3) Die skuif binne hierdie toneeltradisie van konvensionele dramavertalings (vanaf aanvanklik binne streng beperkings tot meer vrye vertalings) na die huidige tendens van verwerking, herwerking en herskepping van die bronteks binne ʼn nuwe sosiokulturele raamwerk tot ʼn nuwe drama- en/of teaterteks in die periode na 1994.

In die bespreking word verskeie bekende voorbeelde van dramavertalings en hulle vertalers gegee, terwyl ook uitgewys word dat dit dikwels vertaalde dramas was wat by luisterryke geleenthede (byvoorbeeld die inwyding van teaters – selfs die Pretoria Staatsteater in 1981) opgevoer is. Die gebruik van vertaalde werk is egter nie uniek tot die Suid-Afrikaanse situasie nie en mens vind eintlik regoor die wêreld soortgelyke praktyke. Ook Afrikaanse dramas word vertaal en oorsee opgevoer (byvoorbeeld die werk van Reza de Wet).

In elke periode gee ek ook ʼn aanduiding van hoe teaterpraktisyns dramavertalings en -verwerkings benader het. Hierbenewens verwys ek in hierdie besprekings na bepaalde teoretiese insigte van kontemporêre navorsers (onder andere Aaltonen, Mueller-Vollmer en Pavis) in die veld van dramavertaling om te demonstreer hoe elke periode geleidelik die teorie en praktyk van dramavertaling ontwikkel het in Afrikaans.

Author Biography

Marisa Keuris, Universiteit van Suid-Afrika

Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika

Published
2020-03-31
Section
Navorsings- en Oorsigartikels