Uitdagings ten opsigte van taaldiversiteit in kerke: Die eenheid van die kerk en taal

Challenges of the diversity of languages in churches: The unity of the church and language

  • Pieter Verster Universiteit van die Vrystaat
Keywords: Kerk, eenheid, nagmaal, taal, Engels, verskeidenheid, Johannes 17, ruimte vir mekaar, respek

Abstract

Die eenheid van die kerk is van die grootste belang vir die Christelike godsdiens. Onlangs het die teoloog, Bram van de Beek, die standpunt ingeneem dat die taal wat algemeen om die nagmaalstafel aanvaarbaar is ter wille van eenheid gebruik moet word, dus Engels. Volgens hom moet die eenheid van die kerk uitgedruk word waar almal rondom die nagmaalstafel teenwoordig is en dit kan alleen geskied indien daar van een taal sprake is. Daar kan met Van de Beek saamgestem word dat die eenheid van die kerk inderdaad ononderhandelbaar is. Die volgende vrae moet egter indringend ondersoek word: Waarin is die eenheid van die kerk geleë? Hoe moet die eenheid rondom die nagmaalstafel gestalte kry? Hoe kan en moet taalverskille hanteer word? Hoe moet die erediens ingerig word indien daar verskeie tale in ’n gemeenskap voorkom? Sou die uitsluitlike gebruik van ’n gemeenskaplike taal, in dié geval Engels, nie juis weersin wek en die eenheid skend nie? Is taal in die uitdrukking van die Christelike godsdiens nie juis ook betekenisvol nie? Binne die NG Kerk-familie is daar verskeie gemeentes wat verskeie tale, selfs binne een erediens, bedien deur tolking of herhaling van die preek. Die kosbaarheid van ’n eie taal is skeppingsmatig van groot belang. Eenheid en verskeidenheid moet dus nie teenoor mekaar gestel word nie, maar inisiatiewe om eie tale te bevorder sonder om die kerk te versplinter moet oorweeg word.

Author Biography

Pieter Verster, Universiteit van die Vrystaat

Sendingwetenskap, Departement Praktiese en Missionale Teologie, Universiteit van die Vrystaat

Published
2019-06-29
Section
Navorsings- en Oorsigartikels