Die verwerwing van kennis oor die komplekse menslike leefwêreld

Gaining knowledge about the complex human lifeworld

  • J Burger Van Lill Noordwes-Universiteit
Keywords: menslike lewenswêreld, kompleksiteitsteorie, komplekse sisteme, ontologie, epistemologie, kennisaansprake, regverdigende standpunt, neurosielkunde, denke, brein

Abstract

Aanhangers van die regverdigende standpunt vereis dat kennisaansprake as waar bewys moet word, deur ’n beroep op ’n toepaslike epistemologiese outoriteit, ’n vaste verwysingspunt, te doen. Volgens Cilliers verteenwoordig hierdie standpunt die tradisionele (“moderne”) manier om kennis te verwerf. In die huidige tydvak, gekarakteriseer deur ’n komplekse leefwêreld (of dit as “postmodern” beskou word of nie), kom so ’n strategie neer op die ontwyking eerder as die bestudering van kompleksiteit. Cilliers verduidelik dat ’n komplekse, oop sisteem, gekenmerk word deur ’n verweefde netwerk van dinamiese interaksies tussen die menigvuldige heterogene komponente (wat ook subsisteme kan vorm) van die sisteem en ander betrokke sisteme. Uit hierde dinamiese interaksies spruit veranderings en herorganisasie van die struktuur, dikwels deur middel van selforganisasie, om nuwe eienskappe te laat ontluik wat bydra tot die funksionering van die sisteem. Uit navorsing toon Damasio dat die mens in wese ’n geïntegreerde komplekse sisteem verteenwoordig met liggaam, brein, sintuie en verstand wat denke en ’n selfbewussyn ontwikkel om in ’n fisiese en sosiale omgewing ’n sinvolle bestaan te voer. Cilliers argumenteer dat aanvaarding van die kompleksiteit van die leefwêreld, voorveronderstel dat dit onmoontlik is om sodanige wêreld ten volle te begryp. Sodanige aanname beteken egter nie dat géén kennis van die leefwêreld ingewin kan word, of dat die inligting vaag is nie. Deur denke verwerf die mens kennis en voeg sinskeppende waarde toe tot sy/haar alledaagse bestaanswêreld; die mens as geesteswetenskaplike het die bykomende verpligting om wetenskaplike kennis oor die menslike leefwêreld te verwerf.

Author Biography

J Burger Van Lill, Noordwes-Universiteit

GIFT Navorsingsentiteit, Noordwes-Universiteit, Mahikeng

Published
2019-09-24
Section
Navorsings- en Oorsigartikels