Die estetiese ingesteldheid as psigoterapeutiese kwaliteit in ʼn hoofsaaklik apatiese, gedigitaliseerde omgewing

The aesthetic disposition as psychotherapeutic quality in a mainly apathetic, digitalised environment

  • Karlien Conradie Universiteit van Stellenbosch
Keywords: opvoedkundige sielkunde, psigoterapeut, estetiese ingesteldheid, ontologiese begronding, selftransformasie, digitalemediakultuur, apatie, aandagtige teenwoordigheid, invoelende sensitiwiteit, kunstenaarskap

Abstract

Die psigoterapeutiese ruimte word gekenmerk deur onder andere invoelende deelname, oftewel ʼn empatiese gevoeligheid vir die problematiek van die bestaan en betekenis van alles. Die estetiese ingesteldheid word as ʼn eis aan die terapeut gestel ten einde op eksistensiële wyse ontvanklik te wees vir la condition humaine. In hierdie artikel voer ek aan dat bogenoemde psigoterapeutiese kwaliteit, soos ook te vinde in die opvoedkundige sielkunde, moontlik in die lig van ʼn ongebreidelde digitalemediakultuur bedreig word. Ek ondersoek die aard van hierdie kwelling aan die hand van verweefde teoretiese en filosofiese benaderings, sowel as van voorbeelde uit die poësie en letterkundige prosa. Daar word aan die hand gedoen dat die opleiding van sielkundestudente in die algemeen, en studente in opvoedkundige sielkunde in die besonder, wat met digitale media grootgeword het, opnuut in oënskou geneem behoort te word.

Wanneer aanlyn digitale media die oorwegende gereedskap word waarmee betekenis ontsluit en vertolk word, sê dit moontlik iets van die wyse waarop mense hul wêreld epistemologies en ontologies benader. In hierdie opsig dien die steeds uitdyende digitale verbruiksgeoriënteerde bestaan, gekenmerk deur nut/utiliteit en onmiddellikheid, toenemend as hubris waardeur die mensdom tot ondergang gedoem skyn te wees. Hierdie ondergang het nie noodwendig te make met die uitsterwing van Homo sapiens nie, maar het eerder betrekking op ʼn verarming van die funksie van woord- en taalgebruik en denke in die mens se strewe na betekenisskepping.

Onlangse navorsing wil te kenne gee dat die snelle hibridisering (die mens-masjienversmelting) waaraan die mensdom blootgestel is, ten koste van sekere kennisverwerwings- en betekenisskeppingsfunksies geskied. Een van dié funksies is die soeke na samehang deur middel van diepgaande interpretasieraamwerke ten einde weg te beweeg van chaos en versplintering op sosiale en persoonlik-psigiese vlak. Hiervolgens gaan dit veral om die verarmde rol van denke en taal as noodsaaklike lewensmiddele om die fyn netwerk van skakerings van gebeure en belewenisse te artikuleer. ʼn Oorwegend gedigitaliseerde kultuur wat nouliks staanplek aan die ryk register van persoonlike ervarings gee, kan daartoe lei dat synsbetekenis gereduseer word tot gefilterde kitsklaar belewenis- en kennisbrokke wat van noodsaaklike nuansering ontdaan is.

In hierdie artikel poog ek om aan die hand van verskeie teorieë in die filosofie en sielkunde, analitiese letterkundebesprekings, en onlangse inligtingswetenskaplike navorsingsbevindinge helderheid te verkry oor die wyse waarop die digitalemediakultuur verband hou met die behoefte aan ʼn estetiese ingesteldheid, spesifiek as ʼn psigoterapeutiese kwaliteit. Ter verrekening hiervan verduidelik ek die wyse waarop sekere kunsvorme as rigtingwyser vir die estetiese ingesteldheid die denkhandelinge van die psigoterapeut en opvoedkundige sielkundige kan bevorder en verryk.


Ons wêreld is betrokke op die middels waardeur ons dit benader. Derhalwe is die geskiedenis gedeeltelik die geskiedenis van gereedskap. Daardie ou houtkapper se byl was die bril waardeur hy die wêreld gesien het, en deur die voel van sy steel het hy alles gevoel.
Marthinus Versfeld (2008:46)

Author Biography

Karlien Conradie, Universiteit van Stellenbosch

Departement Opvoedkundige Sielkunde, Universiteit van Stellenbosch

Published
2019-02-26
Section
Navorsings- en Oorsigartikels