Suid-Afrika se waterkrisis – ’n Interdissiplinêre benadering

South Africa’s water crisis – an interdisciplinary approach

  • Germarié Viljoen Noordwes Universiteit
  • Kobus van der Walt Noordwes Universiteit
Keywords: verantwoordingspligtigheid, fidusiêre verantwoordelikheid, openbare trusteeskap, waterkrisis, oplossings

Abstract

Suid-Afrika se toekoms word wesentlik bedreig deur ʼn uiters beperkte water-hulpbron wat vanweë ʼn lae reënvalsyfer en onvoorspelbare droogtes vergelyk kan word met van die droogste lande ter wêreld. Suid-Afrika het boonop ʼn swak rekord van waterbesparing, die behandeling van afvalwater asook die instandhouding van waterinfrastruktuur. Hierdie gebreke lei tot groeiende kommer oor die land se beskikbare volume water, asook die gehalte daarvan. Die Nasionale Waterwet 36 van 1998 (NWW) is uitgevaardig met die primêre doel om die reg rakende Suid-Afrika se waterhulpbronne fundamenteel te verander. Die aanhef van die NWW verklaar dat water “’n skaars nasionale hulpbron is” en “ʼn natuurlike hulpbron is wat aan alle mense behoort”. Artikel 3 van die NWW brei hierdie standpunt uit deur te bepaal dat alle watergebruiksregte onder die gesentraliseerde beheer van die nasionale regering as openbare trustee val om onder meer die verspreiding, bestuur, gebruik en bewaring van en gelyke toegang tot dié skaars hulpbron te verseker. Die inkorporering van die konsep van openbare trusteeskap het ’n paradigmaskuif in die waterreguleringsraamwerk meegebring, met die gevolg dat alle privaat regte in water afgeskaf is en dat alle water effektief genasionaliseer is. Ten spyte van hierdie statutêre hervorming dui beskikbare data daarop dat die toestand van waterhulpbronne in Suid-Afrika besig is om gaandeweg en voortdurend te verswak. Hierdie artikel het ten doel om te bepaal of die nuwe waterreguleringsraamwerk van Suid-Afrika, geskoei op die konsep van openbare trusteeskap, voldoende oplossings vir Suid-Afrika se groeiende waterkrisis bied. Die artikel ontleed derhalwe Suid-Afrika se waterreguleringsraamwerk, met spesifieke verwysing na die konsep van openbare trusteeskap. Die verswakkende toestand van die land se water word vervolgens bespreek, waarna die artikel afsluit met ʼn gefundeerde opinie oor of die waterreguleringsraamwerk, geskoei op die konsep van openbare trusteeskap, geskik is om Suid-Afrika se waterhulpbron op ʼn volhoubare en billike wyse te bestuur en te beskerm. 

Author Biographies

Germarié Viljoen, Noordwes Universiteit

Fakulteit Regte, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Kobus van der Walt, Noordwes Universiteit

Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Published
2018-09-29
Section
Navorsings- en Oorsigartikels