ʼn Ekokrities-filosofiese perspektief op die kortverhaal “Katvoet” (Riana Scheepers): Die mens en die natuur

An Ecocritical-philosophical perspective on the short story “Katvoet”(Riana Scheepers): Humans and nature

  • Editorial Office
  • Carien Smith Universiteit van Johannesburg
Keywords: Ekokritiek, Riana Scheepers, vrou, dier, natuur, kultuur, rasionaliteit, liggaam, “mind”, niemenslike, agentskap, “Katvoet”, Morton, Buell

Abstract

Die doel van hierdie artikel is om die verhaal “Katvoet” deur Riana Scheepers uit haar gelyknamige bundel (2009) aan die hand van ekokritiek te bespreek. Ek het hierdie kortverhaal reeds in 2016 in ’n artikel op LitNet Akademies (13(2):227-252) ontleed aan die hand van die  fenomenologie, wat strenggenome ’n filosofiese metode is. Ek glo egter dat hierdie teks ryk is aan verdere moontlikhede vir ontleding en dat een so ’n moontlikheid die aanwending van ekokritiese wetenskapsbeginsels is. Van die teoretici na wie ek verwys is Alaimo, Hekman, Bennett, Buell, Burton-Christie, Garrard, Iovino, Love, Morton, Glotfelty en Fromm (spesifiek in terme van ekokritiek); Husserl, Merleau-Ponty, Kant en Warren (filosofiese begronding); en van die voorlopers in die gebruik van ekokritiek in die Afrikaanse literatuur, naamlik Susan Smith en Susan Meyer. Vervolgens, die struktuur van die artikel. Eerstens tref ek ’n onderskeid tussen die huidige artikel en my vorige artikel, naamlik “Die vrou, swangerskap en die dier in die kortverhaal “Katvoet” deur Riana Scheepers: ’n fenomenologiese ondersoek” (LitNet Akademies 13(2):227-252). ’n Aantal filosofiese konsepte word bespreek om te verduidelik hoe ek bepaalde terme aanwend: eerstens die onderskeid tussen woorde, konsepte, teorieë en ’n fisiese entiteit, daarna ’n verdediging van die gebruik van die woord “mind” en laastens ’n oorsig van die konsepte agent, agentskap en morele agent. Vervolgens word ’n aantal van die algemene filosofiese idees wat as grondslag dien vir die Westerse filosofiese kanon bespreek. Hierdie basiese idees word juis deur ekokritiek bevraagteken en gekritiseer en sommige van hierdie kritiek kan raakgelees word in “Katvoet”. Konseptuele raamwerke as verwysingsraamwerke en die kenmerke van onderdrukkende konseptuele raamwerke kom volgende aan bod.1 Die konsep natuur word oorsigtelik bespreek: die wyse waarop die natuur gedefinieer en uitgebeeld word in die Westerse kanon. Vervolgens word ekokritiek bespreek; eerstens die definisie en oorsprong van ekokritiek, daarna die wyse waarop ekokritiek in die literatuur manifesteer. Daarna word die verhaal “Katvoet” ontleed aan die hand van die bogenoemde verwysingsraamwerk wat geskep word deur filosofie en letterkunde, met hoofsaaklik die gebruik van die teoretiese raamwerk van ekokritiek.

Author Biography

Carien Smith, Universiteit van Johannesburg

Departement Filosofie, Universiteit van Johannesburg

Published
2018-07-29
Section
Navorsings- en Oorsigartikels