Die samehang van en verskille tussen sosialekostevoordeel- ontleding en ekonomiese-impakontleding van padprojekte

The coherence of and distinctions between social cost-benefit analysis and economic impact analysis of road projects

  • W J Pienaar Stellenbosch Universiteit
Keywords: Sosialekoste-voordeel-ontleding, ekonomiese-impakontleding, normale verkeer, uitwykverkeer, nuutgeskepte verkeer, ekonomiese groei, ekonomiese ontwikkeling, volle indiensname, prysstabiliteit, betalingsbalansstabiliteit, doelmatigheid, doeltreffendheid

Abstract

Die hoofdoel van die sosialekoste-voordeel-ontleding (SKVO) van ’n pad is om die inligting oor die koste en voordele te verskaf wat nodig is om die lewensvatbaarheid, al dan nie, van die voorsiening en gebruik van die pad te beraam. Die kostekomponent in die SKVO is die eenmalige investeringskoste om die pad tot stand te bring, en die voordeelkomponent is die daling van die herhalende koste wat uit die gebruik en instandhouding van die pad sal spruit.

Die hoofdoel van die ekonomiese-impakontleding (EKIO) van ’n pad behels dat die verwagte gevolge van die voorsiening en gebruik van die pad op die ekonomiese vertoning van ’n bepaalde streek geïdentifi seer en bereken word. Dié ontleding berus hoofsaaklik op die volgende: (a) die beraming van die verwagte eenmalige streeksinkome-vermenigvuldigereffek wat uit die investeringsbesteding aan die pad sal spruit, en (b) die beraming van die herhalende streeksinkome-versnellereffek wat uit die gebruik en instandhouding van die pad sal spruit.

Die ekonomiese uitwerking van ’n padprojek word nie by ’n SKVO ingereken nie. Die rede hiervoor is drievoudig:

Eerstens berus ’n SKVO op toewysingsdoelmatigheid as beoordelingsnorm, en ’n EKIO op doeltreffendheid as beoordelingsnorm. Die kombinering van doeltreffendheidsnorme en doelmatigheidsnorme sal tot ’n wanvertolking van ’n projek se ekonomiese  lewensvatbaarheid lei.

Tweedens sal voordele dubbeld getel word indien padgebruikerskostebesparings en ekonomiese impakte saamgevoeg word.

Derdens kan ekonomiese voordele wat verkry word deur gekoördineerde investering in verskeie sektore, waarvan een ’n pad is, nie alles aan investering in die pad toegeskryf word nie.

Author Biography

W J Pienaar, Stellenbosch Universiteit

Departement Bedryfsingenieurswese, Stellenbosch Universiteit, Suid-Afrika

Published
2024-03-06
Section
Navorsings- en Oorsigartikels