Suez se nagevolge: Persoonlikhede en kolonialisme
The Suez aftermath: Personalities and colonialism
Abstract
Eisenhower, Dulles, Eden en Macmillan was instrumenteel tydens die Suezkrisis wat beduidende implikasies vir die Midde-Ooste en die globale magsbalans meegebring het, maar nie een van hulle het heeltemal ongeskonde uit die krisis gekom nie. Eisenhower het die inperking van kommunisme as sy hoogste prioriteit geag en het Brittanje se koloniale erfenis as onhoudbaar beskou, en Dulles het die koloniale dimensie dikwels opgehaal. Brittanje se dalende status as ’n wêreldmoondheid is blootgelê en as ’n tweederangse moondheid bevestig. Die feit dat Brittanje ’n koloniale mag was, het ’n stigma gelaat waaraan Eden en Macmillan weinig kon doen. Dit was alombekend dat Eden die reëls van geheimhouding verontagsaam het in sy meedoënlose en bloedige strewe na regverdiging. Wat Eden se konserwatiewe regering noodlottig ondermyn het, was die onenigheid in sy eie geledere. Hyself was polities, fisies en emosioneel deur Suez verpletter. Macmillan het uit die wrak van Suez getree om ’n gedemoraliseerde Konserwatiewe Party te lei en ’n land wat nog in die dieptes van vertwyfeling verkeer het. Frankryk was diep gegrief oor Nasser se steun aan rebelle in Algerië. Die nagevolge van die krisis het die agteruitgang van Europese kolonialisme beklemtoon en ’n blywende impak op Frankryk se internasionale verhoudings gehad. Algerië het ontsaglike probleme vir Frankryk veroorsaak en selfs sy politieke stabiliteit bedreig.