Die Bybel, die Christelike geloof en die natuurwetenskappe

The Bible, the Christian religion and the natural sciences

  • Izak Spangenberg Unisa
Keywords: Christelike godsdiens, natuurwetenskappe, Bybelse skeppingsverhale, Genesis 1–3, wetenskaplike navorsingsproses, Bybelwetenskaplike navorsing, evolusie-teorie, paradigmas, paradigmaveranderinge, hipoteses, teorieë, waarheid, etiologiese verhale, Pre-Adamiete, Intelligente Ontwerp

Abstract

In hierdie artikel word die kwaliteit beoordeel van die navorsing wat in die vier artikels, gepubliseer onder die tema “Geloof en Wetenskap” in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):192-261 tot uitdrukking kom. As vertrekpunt dien die oortuiging dat alle standpunte en menings rasioneel en krities beoordeel moet word om die feitelikheid, oftewel  waarheidsgehalte daarvan te bepaal. In die ondersoek word die wetenskaplike navorsingsproses in ag geneem en die standpunt verdedig dat natuurwetenskaplike en geesteswetenskaplike navorsing nie wesenlik van mekaar verskil nie. Dit wys die standpunt van die navorsers af dat geesteswetenskaplike navorsing vanuit bepaalde  geloofsvoorveronderstellings gedoen mag word. Daar word verder geargumenteer dat waarheid en geskiedenis ten nouste met mekaar saamhang, want wat in een eeu waar mag wees, kan in ’n volgende eeu as onwaar bewys word; daarom is ’n historiese bewussyn van die allergrootste belang. Die gebrek aan ’n sodanige bewussyn kan navorsers duur te staan kom, omdat hulle uitsprake kan maak en standpunte kan inneem wat histories nie korrek is nie. Die navorsers van die onderhawige artikels se poging om te bewys dat Genesis 1–3 met die moderne natuurwetenskaplike resultate versoen kan word, is onoortuigend, omdat hulle nie die historiese en kulturele kontekste van dáárdie verhale in ag neem nie. Voorts lees die navorsers hul oortuigings in die tekste in en laat sodoende die Bybel buikspreek.

Uit die voorafgaande blyk dat in die onderhawige artikels wel rekenskap gegee word van die jongste bevindinge op natuurwetenskaplike gebied. Ongelukkig geld dit nie vir resente navorsing in die geesteswetenskappe – meer spesifiek die Bybelwetenskappe nie. Dít omdat die outeurs hulle beroep op verouderde opvattings, soos dat Moses verantwoordelik sou wees vir die boek Genesis, en ook omdat hulle foutiewelik redeneer dat natuurwetenskaplike en geesteswetenskaplike navorsing verskillende tipes ondersoek behels. Hulle (hipo)tese dat die jongste natuurwetenskaplike bevindings nie net versoenbaar nie, maar ook verklaarbaar sou wees met verwysing na Bybelgedeeltes is hoogs problematies.

Author Biography

Izak Spangenberg, Unisa

Departement Bybelse en Antieke Studies, Unisa, Pretoria, Suid-Afrika

Published
2023-12-06
Section
Navorsings- en Oorsigartikels