’n Beraming van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021

An estimate of the annual personal income and annual household income of Orania in 2021

  • Jannie Rossouw Universiteit van die Witwatersrand
Keywords: Afrikaans, jaarlikse huishoudelike inkomste, jaarlikse persoonlike inkomste, ora (ɸ), Orania, verbruiksbesteding

Abstract

Hierdie artikel fokus op die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021. Met die oog hierop is Orania se sosio-ekonomiese opname, waarvan die veldwerk in 2021 afgehandel is en waarvan die resultate in 2022 gepubliseer is, tesaam met die besigheidsopname van 2022 ontleed.

Die Orania Sakekamer reik koopbewyse uit wat bekend staan as die ora en wat op ’n een-tot-een grondslag gekoppel is aan die Suid-Afrikaanse rand. Die ora word afgekort deur middel van die simbool “ɸ”. Ora-koepons sirkuleer as ’n wettige betaalmiddel in die dorp, teen ɸ1,00 gelyk aan R1,00. Aangesien inwoners van Orania verkies om bedrae in ora te benoem en nie die rand nie, word die navorsingsbevindings hier in ora gerapporteer.

Die totale jaarlikse persoonlike i nkomste van die inwoners van Orania in 2021 is op sowat ɸ300 miljoen beraam. Per capita jaarlikse persoonlike inkomste vir die 2 377 inwoners word dus op sowat ɸ125 000 beraam. Hierteenoor word die jaarlikse inkomste van huishoudings in Orania in 2021 op sowat ɸ200 miljoen beraam, wat heelwat laer is as die beraming vir jaarlikse persoonlike inkomste vir dieselfde tydperk. Hierdie verskil in ramings kan nie met bestaande opnamedata verklaar word nie. 

Die ramings van die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste word gestaaf deur die data wat verkry is uit die Orania-besigheidsopname. Die omset van sake-ondernemings in Orania in 2021 word op Φ281 950 000 beraam en sake-eienaars het gerapporteer dat 51 persent van hul omset afkomstig was vanuit inwoners van Orania.

Daar is sekere opnamefoute in die data, terwyl bykomende inligting nodig is om die ramings te verbeter. Inligting oor die huishoudelike besparing en persoonlike inkomstebelasting wat betaal word, sal die ramings kan verbeter. Inligting oor die netto betaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) deur sake-ondernemings sal ook hiertoe bydra. Bykomende inligting is onder meer nodig om Orania se bruto geografi ese produk te beraam.

Die gevolgtrekking kan nogtans gemaak word dat die jaarlikse persoonlike inkomste en jaarlikse huishoudelike inkomste van Orania in 2021 tussen ɸ200 miljoen en ɸ300 miljoen beloop het. Die beraming laat ’n marge van 50 persent, wat statisties groot is, maar bied nietemin ’n maatstaf waarvolgens toekomstige bevindings oor dieselfde onderwerp met mekaar en met die bevindings uit die verlede vergelyk kan word. Daar moet ook tot die slotsom geraak word dat die groeivlak van Orania se persoonlike en huishoudelike inkomste sedert 1991, toe dit vir alle doeleindes op nul gestaan het, beduidend is.

Author Biography

Jannie Rossouw, Universiteit van die Witwatersrand

Besoekende professor: Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika

Published
2023-12-06
Section
Navorsings- en Oorsigartikels