Die Afrikaner-Broederbond en die totstandkoming van ’n onderhandelde skikking: ’n Histories en polities strategiese perspektief

The Afrikaner-Broederbond and the establishment of a negotiated settlement: An historic and politically strategic perspective

  • Jan Bosman Noordwes-Universiteit
  • André Duvenhage Noordwes-Universiteit
Keywords: Afrikaner, Afrikaner-Broederbond, Afrikanerbelange, skikking, basiese staatkundige voorwaardes vir die voortbestaan van die Afrikaner, belangegroep, dinkskrum, onderhandelinge, referendum, stelselanalise, onderhandelde skikking

Abstract

Die beëindiging van apartheid deur ’n onderhandelde skikking tussen politieke rolspelers, wat gelei het tot die nuwe Suid-Afrikaanse politieke bedeling, word allerweë as merkwaardig beskou. Die proses het nietemin nie in ’n vakuum plaasgevind nie. Ander rolspelers buite die politieke omgewing het ’n pertinente rol gespeel in die verandering in denke in die Afrikaner-establishment om ’n klimaat te skep waarbinne staatkundige hervormings kon plaasvind. Een van die rolspelers was die Afrikaner-Broederbond (AB). Hierdie studie lig die rol van die Afrikaner-Broederbond uit by wyse van ’n historiese stelselanalitiese perspektief as teoretiese model vir die navorsing.

Die Afrikaner-Broederbond was vanaf 1948 tot in die vroeë 1990’s ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse politieke stelsel. ’n Politieke stelsel word vir die doeleindes van hierdie artikel gedefinieer as die interaksie waardeur waardes gesaghebbend aan ’n gemeenskap toebedeel word. Deur die direkte en indirekte ondersteuning van die Nasionale Party tot in die vroeë 1990’s het die Afrikaner-Broederbond as ’n Afrikanerbelange-organisasie en dinkskrum aan die insetkant tot die stelsel ’n pertinente rol gespeel.

Toe dit in 1985 blyk dat die Nasionale Party-regering se hervormingspogings stagneer, het die Afrikaner-Broederbond die leiding geneem om Afrikanerdenke te begin beïnvloed en sodoende ’n omgewing te skep waarbinne hervormings momentum kon kry. Tydens hierdie tydperk is verskeie besprekingsdokumente versprei. Een van die belangrikste, indien nie die belangrikste nie, afkomstig van die Afrikaner-Broederbond, was die “Basiese Staatkundige Voorwaardes vir die Voortbestaan van die Afrikaner (BSV),” wat teen November 1986 aan afdelings gestuur is. Dit het ongetwyfeld ’n verandering in denkwyse oor die politieke rigting verteenwoordig. Hiermee is die Rubicon oorgesteek.

Die bevindinge in die navorsing dui ook daarop dat die Afrikaner-Broederbond behulpsaam was om ’n klimaat te help bevorder vir die Afrikaner-establishment om apartheid te beëindig deur omvattende politieke voorstelle te ontwikkel. Hierdie voorstelle, sowel as die voorafgaande interaksies met die ANC, het ook gehelp om ’n algemene politieke klimaat te skep waarbinne ’n onderhandelde skikking tot stand kon kom. Daar was lank ’n besonder hegte verhouding tussen die Nasionale Party en die Afrikaner-Broederbond. Alhoewel die AB meegehelp het om spesifi eke voorstelle te ontwikkel om bepaalde bestaansvoorwaardes vir die Afrikaner te verseker, was hulle egter nie amptelik betrokke by die onderhandelings nie en was hulle derhalwe op die Nasionale Party aangewese om hul belange te verteenwoordig. Die navorsing dui aan dat sommige van die voorgestelde bestaansvoorwaardes vir die Afrikaner (BSV, 1986) nie gerealiseer het in die onderhandelinge nie.

In die kritieke periode van onderhandelinge het die Nasionale Party verkies om die pad van onderhandeling alleen te stap en nie kundige rolspelers uit die Afrikaner-establishment of belangegroepe soos die Afrikaner-Broederbond te betrek nie. Die onderskeie leiersgroepe van die Afrikaner-Broederbond en die politieke partye wat oorwegend Afrikanerbelange behartig het (insluitende die NP), het uiteindelik verskillende waardes en beginsels geprioritiseer wat vanuit hulle perspektief Afrikanerbelange moes beskerm en bevorder.

Vir die doeleindes van hierdie navorsing het toegang tot interne dokumente, insluitende notules en ander besprekingsdokumente, sowel as onderhoude met rolspelers binne en buite die organisasie op daardie tydstip, bygedra tot waardevolle insigte en perspektiewe.

Author Biographies

Jan Bosman, Noordwes-Universiteit

Nagraads, Politieke Studies, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

André Duvenhage, Noordwes-Universiteit

Navorsingsprofessor, Departement Politieke Wetenskap, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2023-12-06
Section
Navorsings- en Oorsigartikels