Die opkoms van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as Suid-Afrika se 12de amptelike taal

The emergence of South African Sign Language as South Africa’s 12th official language

  • Theo du Plessis Universiteit van die Vrystaat
Keywords: Suid-Afrikaanse Gebaretaal, nasionale gebaretale, amptelike/wetlike erkenning, ampstaalerkenning, wetgewende proses, taalwetgewing, taalbeleid en -beplanning, taalaktivisme, instrumente van taalaktivisme, gebaretaalkampvegters, taalstryd, taalbewegings

Abstract

Op Woensdag, 19 Julie 2023 het die President van Suid-Afrika die 18de Grondwetlike Wysigingswetsontwerp bekragtig ingevolge waarvan Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) as Suid-Afrika se 12de amptelike taal verklaar word. Suid-Afrika was die sesde land wat in 1996 reeds wetlike erkenning aan sy gebaretaal verleen het, slegs vier jaar na die Verenigde Nasies se 1992 Verklaring oor die Regte van Persone wat aan Nasionale of Etniese, Godsdienstige en Linguistiese Minderhede behoort en drie jaar ná Suid-Afrika sy 1993-grondwet aanvaar het wat die politieke oorgangstydperk in Suid-Afrika ingelui het. Teenoor hierdie relatief “blitsige” erkenning staan die volle verampteliking van die taal in 2023 wat eers na verloop van ’n verdere 27 jaar (ná 1996) gerealiseer het. Dit laat onvermydelik die vraag ontstaan waarom laasgenoemde relatief langer geneem het en waarom die grondwetlike erkenning en verampteliking in die onderwys van 1996 relatief vinnig gebeur het. Hierdie vraag word ondersoek aan die hand van ’n vergelykende studie tussen die twee “eras van verampteliking” vanuit ’n taalbeleid- en -beplanningsraamwerk en teen die agtergrond van verwante internasionale gevallestudies. Die ondersoek bevind dat in beide gevalle DoweSA as gebaretaalkampvegter ’n sentrale rol gespeel het by die bereiking van die organisasie se oogmerke. Ook word bevind dat die relatiewe “spoed” van die eerste erkenning grootliks toegeskryf kan word aan die politieke tydsgees van die sogenaamde Mandela-era.

Author Biography

Theo du Plessis, Universiteit van die Vrystaat

Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika

Published
2023-09-16
Section
Navorsings- en Oorsigartikels