Historiese perspektief: Redes vir en gevolge van die betrokkenheid van groot moondhede in die Suezkanaal (Egipte), in besonder voor 1956 (Deel I)

Historical perspective: Reasons for and consequences of the involvement by great powers in the Suez Canal (Egypt), in particular before 1956 (Part I)

  • Riaan Eksteen Universiteit van Johannesburg
Keywords: Bismarck, Britse Ryk, Brittanje, Churchill, Eden, Egipte, Frankryk, Indië, Kaapse seeroete, Midde-Ooste, Napoleon Bonaparte, nasionalisering, Nasser, staatsgreep, Suezkanaal

Abstract

In hierdie eerste van drie artikels word die geopolitieke belangrikheid van Egipte en die geostrategiese ligging van die landengte van Suez (Ismus) en daarná die kanaal self bespreek. Ook word gefokus op die bou van die kanaal en die noodsaaklikheid om beheer daaroor te verkry en te behou. In die laat 1700s en dwarsdeur die 19de eeu tot die middel van 1956 het Europese moondhede om verskeie redes in Egipte en dus ook die kanaal belanggestel. Intriges en konflik het by tye hoogty gevier. Baie was op die spel, gegewe die feit dat hierdie landengte en waar die kanaal later gebou sou word ’n besonder strategiese rol speel as verbindingslinie tussen Europa en die Ooste en ook die Indiese Oseaan. Dit het toenemend belangriker geword vir Brittanje om oor hierdie verbinding te beskik. Frankryk se betrokkenheid in Egipte begin in 1798 met Napoleon Bonaparte en later met Ferdinand de Lesseps wat die vergunning bekom het om die Suezkanaal te bou. Dit is in 1869 geopen en het ’n omwenteling in die verskeping van goedere tussen Brittanje en sy kolonies teweeggebring. Nadat Brittanje aanvanklik teen die bou van die kanaal gekant was, het hulle tog later ’n aandeel daarin verkry. In die toepassing van sy buitelandse beleid het Otto von Bismarck van Duitsland weinig belangstelling in Egipte getoon. Britse troepe word in 1882 in Egipte ontplooi om ’n nasionalistiese opstand te onderdruk. Die troepe bly aan tot na die Eerste Wêreldoorlog. Die Entente Cordiale wat 40 jaar van bitter mededinging tussen Brittanje en Frankryk beëindig, het ook vir Brittanje ’n vrye hand in Egipte en vir Frankryk een in Marokko gegee. In 1922 het Egipte onafhanklik geword, maar Britse magte het aangebly om die Suezkanaal steeds te beskerm. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje sy militêre teenwoordigheid in die omstreke van die Suezkanaal aansienlik verhoog – iets wat Egiptenare geensins aangestaan het. Brittanje het min van die voordele wat uit die gebruik van die kanaal voortgespruit het aan Egipte oorgedra. ’n Reeks mislukkings in Brittanje se toepassing van sy buitelandse beleid het die basis vir die steeds groeiende en veelvlakkige konfl ik tussen Brittanje en Egipte aangevuur. Op 23 Julie 1952 word koning Faroek onttroon in ’n militêre staatsgreep waarin die jong kolonel Gamal Abdul Nasser die leidende rol speel. Daarná is Egipte nie meer dieselfde nie. Nasser het homself as ’n besondere leier nie net in Egipte nie, maar ook internasionaal gevestig, met een van die uitvloeisels van sy leierskap die nasionalisering van die Suezkanaal op 26 Julie 1956. Die gevolg hiervan strek vêr en wyd. In die tweede artikel word meer breedvoerig hierop ingegaan, terwyl die derde artikel oor die gevolge van die kanaalsluiting vir Suid-Afrika handel. Daar word gelet op die internasionale aandag wat op die seeroete om die Kaap gevestig is; die hersluiting van die kanaal in 1967 en Brittanje se oordrag van die vlootbasis by Simonstad in die laat 1950’s aan Suid-Afrika.

Author Biography

Riaan Eksteen, Universiteit van Johannesburg

Senior Navorsingsgenoot, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika

Published
2023-06-12
Section
Navorsings- en Oorsigartikels