Professionele persone in maatskaplike diensberoepe se kennis van en houding teenoor ouer persone: Implikasies vir voortgesette professionele ontwikkeling

Social service professionals’ knowledge of and attitudes towards older persons: Implications for continuing professional development

Keywords: maatskaplike diensberoepe, maatskaplike werkers, maatskaplike hulpwerkers, ouer persone, voortgesette professionele ontwikkeling, kennis van ouer persone, houding teenoor ouer persone, ouderdomsdiskriminasie, Suid-Afrika, gerontologie

Abstract

Die bejaardebevolking neem wêreldwyd toe. Gevolglik vergroot die vraag na geskikte mediese sorg, maatskaplike bystand, maatskaplike dienste en versorging. In Suid-Afrika word maatskaplike dienste aan ouer persone hoofsaaklik deur twee maatskaplike diensberoepe gelewer, naamlik maatskaplike werkers en maatskaplike hulpwerkers. Hierdie praktisyns moet oor die nodige kennis van en gepaste houding teenoor ouer persone beskik ten einde effektiewe gerontologiese dienste te lewer. Internasionaal, maar ook in Suid-Afrika, is ’n leemte geïdentifi seer met betrekking tot ’n studie wat praktisyns se kennis van en houding  teenoor ouer persone verken en beskryf. Hierdie artikel poog om die volgende navorsingsvraag te beantwoord: “Wat is professionele persone in maatskaplike diensberoepe se kennis van en houding teenoor ouer persone?” ’n Deursnit opnameprosedure is gevolg met praktisyns (N=140) verbonde aan een private welsynsorganisasie. Drie-en-sestig respondente (N=63) het die aanlyn vraelys voltooi. Respondente se kennis van veroudering is verken met Palmore’s First Facts on Aging Quiz in multiple-choice format. Houding teenoor ouer persone is ooreenkomstig Fraboni’s Scale of Ageism beskryf. Respondente het swak gevaar in hul oorhoofse kennis van veroudering met ’n gemiddelde punt van 9.4 uit 25 (s=2.6). Met ’n teoretiese reikwydte van 29 tot 145, het ouderdomsdiskriminasie laag gemeet (x̅=80.6; s=11.8). Voorts is die impak van nege faktore op respondente se gemiddelde kennis van en houding teenoor ouer persone bepaal met behulp van parametriese toetse. Beide voortgesette professionele ontwik kelingsinisiatiewe en supervisie is bekende kontekste in maatskaplike diensberoepe. Aanbe velings word gedoen om praktisyns se kennis van en houding teenoor ouer persone te verbeter met die oog op effektiewe gerontologiese dienste.

Author Biographies

Stephan Geyer, Universiteit van Pretoria

Departement Maatskaplike Werk en Kriminologie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Joyce Jordaan, Universiteit van Pretoria

Statistiese Konsultasiediens, Departement Statistiek, Universiteit van Pretoria, Pretoria, Suid-Afrika

Published
2023-06-12
Section
Navorsings- en Oorsigartikels