Die tradisioneel-konserwatiewe vryheidsbeskouing van Edmund Burke teenoor dié van moderne konserwatisme

Edmund Burke’s traditional conservative conception of freedom as opposed to that of modern conservatism

  • Ernst Roets Afriforum
Keywords: Edmund Burke, vryheid, konserwatisme, liberalisme, tradisie, die goeie, ervaring, rasionalisme, politieke teorie, individualisme, gemeenskap, Franse rewolusie

Abstract

In hierdie artikel word daar aangevoer dat die Britse tradisioneel-konserwatiewe denker Edmund Burke (1729–1797) se vryheidsbeskouing fundamenteel verskil van die vryheidsbeskouings wat moderne konserwatisme onderlê. Moderne konserwatisme word aan verskillende strome gekenmerk wat hoofsaaklik deur liberale vertrekpunte onderlê word. Dit sluit in: die libertariese stroom, wat ekonomiese vryheid beklemtoon; die neokonserwatiewe stroom, wat die universalisering van Westerse sosiale orde beklemtoon; en die klassiek liberale stroom, wat individuele vryheid beklemtoon. Die tradisioneel-konserwatiewe vryheidsbeskouing van Edmund Burke wyk in drie belangrike opsigte van al hierdie strome af: Eerstens beskou Burke vryheid as iets wat nie van die bevordering van die goeie losgemaak kan word nie; tweedens beskou Burke individue as wesens wat slegs werklik vry kan wees indien hulle hul verantwoordelikhede met betrekking tot hul gemeenskap nakom en sodoende daartoe bydra om hul gemeenskap vry te maak; derdens verwerp Burke politieke teorieë uitdruklik en beroep hom daarteenoor op ervaring as die enigste weg waardeur mense vrygemaak kan word. Gevolglik word vryheid, volgens Burke se ontleding, gekenmerk deur die nakoming van verantwoordelikhede, die bevordering van die goeie – nie net vir die individu nie, maar vir die breër gemeenskap – asook wedersydse respek en verdraagsaamheid tussen gemeenskappe.

Author Biography

Ernst Roets, Afriforum

Hoof: Beleid en Aksie, Afriforum, Pretoria, Suid-Afrika

Published
2022-12-06
Section
Navorsings- en Oorsigartikels