Die migrasie en verspreiding van aansteeklike siektes: Vanaf die oorsprong van Homo sapiens tot en met die Antroposeen

Migration and spread of infectious diseases: From the origin of Homo sapiens up to the Anthropocene

  • Martie van der Walt Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad
Keywords: Antroposeen, aansteeklike siektes, migrasie, tuberkulose, Helicobacter pylori, MIV/VIGS, koronavirusse, inter-spesies, pokke, UitAfrikamigrasie, Oekraïne, KwaZulu-Natal, soönoses

Abstract

Migrasie speel ’n groot rol in die verspreiding van aansteeklike siektes. Tydens migrasie word die patogene van die siektes saam met die mens gedra en só na voorheen onbesmette groepe oorgedra. Selfs so lank gelede as die Uit-Afrika-migrasie het die mens twee welbekende patogene saamgedra en na die res van die wêreld versprei. Daar kan talle redes wees vir migrasie. Dit gebeur óf beplan óf spontaan. Indien migrasie deur natuurrampe, konflik, trekarbeid, slawerny of kolonisasie veroorsaak word, mag dit nadelig vir die gesondheid van migrante wees. Dit kan ook hulle vatbaarheid vir siektes verhoog, wat die verspreiding van siektes aanhelp. Reis as ’n tipe migrasie het gemaak dat die wêreld se bevolking hoogs gekonnekteer is, en dit bevorder vinnige verspreiding van siektes oor die wêreld heen. Voorbeelde van siektes wat deur migrasie versprei is, sluit in tuberkulose, Helicobacter pylorimaagsiektes, pokke, die verworwe immuniteitsgebreksindroomvirus, die Midde-Oosterse koronavirus en koronavirus tipe 1 en 2. Tydens die Holoseen het antopogeniese impakte ’n
wanbalans in ekosisteme veroorsaak wat die Antroposeen ingelui het. Tydens die Neolitikum is diere gedomestiseer en sodoende is mikro-organismes van die diere na die mens oorgedra en sommige mikro-organismes, veral virusse, het siektes in mense veroorsaak, wat soönotiese siektes genoem word. In die toekoms gaan siektebeheer al hoe meer natuurbewaring insluit. Aangesien migrasie so ’n belangrike rol in die oordrag van siektes speel, gaan dit in die toekoms verpligtend word om situasies waar siektes, wat deur migrasie versprei word, deurlopend te moniteer om rampbeheerplanne betyds te implementeer. Dit is moeilik om sulke situasies te voorsien. Twee baie goeie voorbeelde hiervan is eerstens die konflik in Oekraïne sedert Maart 2022 met die inval van Rusland, en tweedens, die grootskaalse skade aan huise en infrastruktuur wat deur die die swaar reën in April 2022 in die KwaZulu-Natal Provinsie van Suid-Afrika plaasgevind het. In beide gevalle het groot getalle mense gevlug om die konflik of ramp te ontkom, en dit het mense meer vatbaar gemaak vir die oordrag van aansteeklike siektes. Rampbeheerplanne moet veral voorsiening maak vir die beskerming van die gesondheid van migrante en plaaslike gemeenskappe om die verspreiding van siektes uit te skakel.

Author Biography

Martie van der Walt, Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad

Tuberkulose Platform, Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Pretoria, Suid-Afrika

Published
2022-12-06
Section
Navorsings- en Oorsigartikels