’n Vergelykende studie rakende ondersteuningsdienste vir onderwysers in openbare skole in die BRICS-lidlande

A comparative study regarding support services for teachers in public schools in the BRICS member states

  • Reinette Blake Noordwes-Universiteit
  • Deon Vos Noordwes-Universiteit
  • Louw De Beer Noordwes-Universiteit
  • Erika Serfontein Noordwes-Universiteit
Keywords: BRICS, BRICS-onderwysdoelstellings, ondersteuningsdienste, onderwysers, onderwysstelsel, openbare skole, vergelykende opvoedkunde

Abstract

Onderwyserondersteuningsdienste is ’n element van die komponent ondersteuningsdienste van ’n effektiewe onderwysstelsel. In hierdie studie word die BRICS-lidlande ondersoek, en die fokus word op onderwysers in openbare skole geplaas. Die BRICS-lidlande is Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika. Die BRICS-organisasie streef daarna om ’n goed georganiseerde en ondersteunende organisasie te wees in terme van ekonomiese groei deur effektiewe onderwys en opleiding. Die BRICS-lidlande is vir hierdie studie gekies omdat daar ’n gebrek aan navorsing oor hierdie onderwerp is.

Hierdie studie toon dat daar ’n leemte in die BRICS-organisasie is in terme van onderwysers wat die nodige ondersteuningsdienste ontvang om goeie onderrig te verseker. Die doel van die navorsing was om te bepaal hoe ondersteuningsdienste aan onderwysers in openbare skole in die BRICS-lidlande verskaf word. Die studie fokus op die verskille en ooreenkomste wat geïdentifiseer kan word op grond van ondersteuningsdienste wat aan onderwysers in openbare skole in die BRICS-lidlande verskaf word. Die vergelykende navorsingsmetode is gebruik om beste praktyke te identifi seer en te vergelyk met betrekking tot ondersteuningsdienste wat aan onderwysers binne die BRICS-lidlande gebied word.

Die volgende temas is geïdentifiseer waar beste praktyke voorgekom het binne die plaaslikekonteks van die individuele BRICS-lidlande: ondersteuningsdienste in media-ondersteuning, ondersteuning in die pensioenfonds, regsadviesdienste en dienste wat die vakbonde verskaf. ’n Eenvormige raamwerk vir ondersteuningsdienste vir opvoeders is belangrik om effektiewe ondersteuning aan opvoeders te bied. Sodoende kan ondersteuningsdienste van ’n beter gehalte aan onderwysers verseker word. Dit is egter belangrik dat die konteks van elke land in ag geneem word voordat so ’n raamwerk geformuleer word. Die verbetering van samewerking tussen die BRICS-lidlande kan ook betrekkinge tussen die lande versterk. Die bewusmaking van internasionale organisasies se betrokkenheid by enige fi nansiële bydrae tot die onderwysstelsels in die BRICS-lidlande kan daartoe lei dat onderwysers meer ondersteuningsdienste ontvang. Sodoende kan ’n positiewe bydrae tot die onderwysstelsel gemaak word. Tydens die BRICS-lidstate se vergaderings moet klem geplaas word op beste praktyke wat geïdentifi seer is om ander lidlande te help om onsuksesvolle praktyke te verander.

Klem is gelê op mediadienste, pensioenfondse, regsadviesdienste en vakbonde. ’n Interpretatiewe navorsingsparadigma is as vertrekpunt gebruik, en ’n kwalitatiewe navorsings metode is gevolg om die inhoud van bestaande artikels en regeringspublikasies te ontleed en data daaruit te onttrek. Die data is verwerk en ontleed om beste praktyke te identifi seer. Die algehele bevinding van hierdie studie is dat ondersteuningsdienste beskikbaar is vir onderwysers in die BRICS-lidlande, alhoewel die mate van ondersteuning binne die verskillende lidlande verskil.

Die beste praktyke wat tydens die navorsing geïdentifiseer is, kan elkeen van die BRICSlidlande bevoordeel. Verskeie hulpbronne is geraadpleeg om die ondersteuningsdienste wat aan onderwysers in elke land verskaf word, sowel as die voorsiening van onderwys in hierdie lande, te verbeter.

Author Biographies

Reinette Blake, Noordwes-Universiteit

Fakulteit Onderwys, Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika

Deon Vos, Noordwes-Universiteit

Senior lektor, Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika

Louw De Beer, Noordwes-Universiteit

Senior lektor, Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika

Erika Serfontein, Noordwes-Universiteit

Medeprofessor, Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2022-09-14
Section
Navorsings- en Oorsigartikels