Die verwerwing van Afrikaanse foneme deur kinders van 24–72 maande

The acquisition of Afrikaans phonemes in children aged 24–72 months

Keywords: foneme, verwerwing, verwerwing van foneme, verwerwing van foneme van Afrikaans, Afrikaans, kinders, kinders tussen die ouderdomme van 24 en 72 maande, konsonante, konsonantkombinasies, diftonge, monoftonge, vokaalklanke

Abstract

Doel: Die hoofdoel was om die ouderdom waarop Afrikaanse foneme deur kinders van die ouderdomsgroep 24–72 maande verwerf word, te beskryf volgens die teoretiese raamwer van 75% korrekte produksie. Die subdoel was om te bepaal of ’n verskil in verwerwing tussen manlike en vroulike kinders per ouderdomsgroep gevind kon word.

Metode: Die studiebevolking het uit 150 deelnemers bestaan (30 per ouderdomsgroep, 15 manlik en 15 vroulik), ouderdom 24–72 maande. Die Afrikaanse Dieptetoets vir die Artikulasie van Foneme en die Afrikaanse Artikulasie Ondersoek is gebruik om foneemproduksie te assesseer. ’n Nabootsingtaak is uitgevoer om die produksie van vokaalklanke te assesseer.

Resultate: Alle vokaal- en plofklanke is teen die ouderdom van twee jaar verwerf. Die twee affrikate, vier nasale klanke en die laterale klank is teen die ouderdom van drie jaar verwerf. Alle frikatiewe is teen vier jaar verwerf terwyl die trilklank teen die ouderdom van vyf jaar verwerf is. Daar was geen beduidende verskil tussen manlike en vroulike deelnemers ten opsigte van die verwerwing van vokaalklanke nie. Vroulike deelnemers het konsonante vroeër as hulle manlike eweknieë verwerf, maar dit was nie ’n statisties beduidende verskil nie. Alle konsonantkombinasies is teen die ouderdom van vyf jaar verwerf. Daar was ’n beduidende verskil tussen manlike en vroulike deelnemers op die ouderdom van drie jaar vir die verwerwing van /sp/ (x2 = 0,035, p = 0,035), asook van /sk/ (x2 = 0,04, p = 0,04) en /sl/ (x2 = 0,01, p = 0,01) op die ouderdom van vier jaar. Geen beduidende verskille het op enige ouderdomsvlak vir die ander konsonantkombinasies voorgekom nie.

Gevolgtrekking: Teen die ouderdom van vyf jaar is al die foneme verwerf. Oor die algemeen lyk dit of vroulike deelnemers die konsonante en konsonantkombinasies van Afrikaans op ’n vroeër ouderdom as manlike deelnemers verwerf het.

Author Biographies

Chanté Pringle, Universiteit Pretoria

Departement Spraak-Taalpatologie en Oudiologie, Universiteit Pretoria, Suid-Afrika

Mia Le Roux, Universiteit Pretoria

Departement Spraak-Taalpatologie en Oudiologie, Universiteit Pretoria, Suid-Afrika

Salomé Geertsema, Universiteit Pretoria

Departement Spraak-Taalpatologie en Oudiologie, Universiteit Pretoria, Suid-Afrika

Marien Graham, Universiteit Pretoria

Departement Wetenskap-, Wiskunde- en Tegnologie-Onderwys, Universiteit Pretoria, Suid-Afrika

Published
2022-06-29
Section
Navorsings- en Oorsigartikels