Apartheid: ’n Verkiesingsvaandel in Suid-Afrika in 1948. DF Malan en die Nasionale Party in histories-etiese perspektief

Apartheid: A slogan in the elections of 1948 in South Africa. DF Malan and the National Party in a historical-ethical perspective

  • P J Strauss Universiteit van die Vrystaat
Keywords: apartheid ’n wêreldwye bekende term, leefwyse vanaf 1652, kontakervaring tussen mense van verskillende waardes bring afstand, konsekwente apartheid in 1948; wit beheer vir stabiliteit, afsonderlike ontwikkeling nie uitvoerbaar, ekonomiese kragte verhoed afsonderlike ontwikkeling, apartheid geïsoleer, swart weerstand, rassisme

Abstract

Die idee van “apartheid” ontstaan moontlik reeds kort na die landing van Jan van Riebeeck en 90 Nederlanders op 6 April 1652 aan die Kaap. As werknemers van die Hollands-Oos-Indiese-Kompanjie met sy Politieke Raad distansieer hierdie Europeërs hulself van die mense van Afrika weens verskillende leefstyle en waardes.

In die verkiesing van slegs blankes in 1948, soos gebruiklik in die Unie van Suid-Afrika sedert 1910, aanvaar die Nasionale Party van DF Malan “apartheid” as ’n slagspreuk vir sy  rassebeleid. Blanke kiesers word verseker van die ywer van die Party vir die bestaansveiligheid en politieke beheer van die witman omdat dit die situasie in Suid-Afrika sou stabiliseer. ’n Situasie waarin die sogenaamde nie-blankes of swart en gekleurdes opgevoed moes word tot die aanvaarding van Westerse waardes en waarin die ontwikkeling van eie, afsonderlike intstellings vir hulle moes volg.

Reeds met die formulering van die apartheidsbeleid in 1948 skemer twee probleme deur. Probleme wat uiteindelik sou lei tot die erkenning van die Nasionale Party in 1985 dat oorhoofse apartheid misluk het en wat voorts uitloop op die vestiging van ’n algemeen aanvaarde demokratiese Suid-Afrika in 1994. Die eerste probleem was dat “apartheid” ’n onderskeid tussen die blankes en ander mense op rassegronde gemaak en die begrip ras as ’n natuurlike verskynsel normatief vir die geestelik georiënteerde verhoudinge tussen mense aangewend is. Daarmee sou “apartheid” in die wêreldwye ná-koloniale tyd – veral ná 1945 en die Tweede Wêreldoorlog – die etiket van rassisme op die lyf loop. Die tweede probleem was dat die beleid in 1948 nie duidelik was oor waartoe die ontwikkeling van die nie-blanke moes lei en of blanke beheer op ’n stadium opgehef sou moes word nie. Hulle rasherkoms was die oorsaak dat die gekleurdes in Suid-Afrika sekere basiese regte ontsê is: vir talle binne en buite Suid-Afrika ’n toonbeeld van skreiende diskriminasie.

Die uitvoering van sosiale én ’n oorhoofse geografiese apartheid het in 1994 wetlik in die slag gebly omdat dit algaande geblyk het om, gesien vanuit ’n twyfelagtige fundering téén ekonomiese dryfkragte in, onuitvoerbaar te wees. Strydig met hulle ekonomies-bepaalde bevolkingsvestigingspatrone, was ’n gedwonge, afsonderlike vestiging van mense nie haalbaar nie.

Author Biography

P J Strauss, Universiteit van die Vrystaat

Navorsingsgenoot, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika

Published
2022-06-29
Section
Navorsings- en Oorsigartikels