Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale: Strukturele en inhoudelike patroonmatighede

Afrikaans Jackal and Wolf trickster stories: Patterning in the structure and general content

  • Corné Van der Vyver Noordwes-Universiteit
Keywords: aktante, dieptestruktuur, narratief, ontleding, patroonmatighede, triekster, trieksterverhaal, struktuur, struktuurelemente, volksverhaal

Abstract

In hierdie artikel word verslag gedoen van ’n deduktiewe ontleding van ’n versameling Jakkalsen-Wolfverhale met betrekking tot struktuurelemente, strukturele patrone, variasiepatrone en inhoud volgens die beginsels van strukturalistiese narratologie. Die struktuurmodelle wat reeds deur ander navorsers in volks- en trieksterverhale uitgewys is, is ook aan hierdie korpus getoets. Daar is bevind dat Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale ooreenstem met die universele patrone van trieksterverhale. Dit het ook geblyk dat die held in hierdie verhale bepaal word deur die oogpunt waaruit die gebeure beskou word. Jakkals is onder meer ’n metafoor van die triekster wat in ’n sosiaal beter posisie geplaas word deur die feit dat hy slim is en daarin kan slaag om die fisiek sterkere te uitoorlê. Daar is bevind dat die struktuur van die Afrikaanse Jakkals-en-Wolfverhale in sekere opsigte uniek is – ’n universele verlede, unieke karakters, ’n beperkte ruimte, ’n verteller fokalisator, gebeure waarvan die episodes op mekaar volg, episodes wat ingebed is in ’n handelingsreeks en vertellers wat ingestel is op die kindergehoor. Dit is duidelik dat die struktuur en algemene inhoud van Afrikaanse Jakkals-en-Wolftrieksterverhale dinamies gebly het. ’n Wyer soektog behoort geloods te word om meer volksverhale, in veral die Suid-Afrikaanse konteks, wetenskaplik te versamel sodat meer verhale met mekaar vergelyk kan word ten einde tot ’n algemener gevolgtrekking te kan kom oor die struktuur en patroonmatighede in Suid-Afrikaanse volksverhale.

Author Biography

Corné Van der Vyver, Noordwes-Universiteit

Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2022-03-11
Section
Navorsings- en Oorsigartikels