Die probleem van historiese skuld in Suid-Afrika

The problem of historical guilt in South Africa

  • Leopold Scholtz Noordwes-Universiteit
Keywords: Apartheid, kommunisme, ANC/SAKP, Nazisme, Karl Jaspers, Alfred Nzo, Oliver Tambo, Nelson Mandela, pres. FW de Klerk, Afrikanernasionalisme, Lenin, Gandhi, Albert Luthuli, Kabwe, MK, Chris Hani, WVK, Joe Slovo

Abstract

Historiese skuld is ten beste ’n baie problematiese konsep. Dit word duidelik geïllustreer deur die Duitse geskiedenis sedert 1945, toe die Duitsers vir hulself rekenskap moes gee van hul optrede in die jare 1933–1945.1 Wié het wát aan wié gedoen? Wie besluit oor die vraag van skuld of onskuld van wie? En wie of wat gee hulle die reg om dit te doen? Welke morele of regsbeginsels word in die proses gebruik?

Ook: Hoe ver moet in die tyd teruggegaan word? Na Columbus se aankoms in die Nuwe Wêreld in 1492? Na Jan van Riebeeck se koms na die Kaap in 1652? Na die “Scramble for Africa” in die negentiende eeu? Die verwoesting van die Boererepublieke en die groot sterfte van die Republikeinse burgerlike bevolking in die konsentrasiekampe in 1899–1902? Die begin van apartheid in 1948? Dit is vrae wat nie so maklik beantwoord kan word nie.

Tog, gebeure wat ’n sekere morele grens oorskry – soos die volksmoord op die Jode in die Tweede Wêreldoorlog, die Rwandese volksmoord van 1994, of die etniese “suiwering” in die Balkan in dieselfde tyd – het uitgekristalliseer in ’n bepaalde konsensus oor internasionale optrede rakende menseregte in die breedste sin van die woord, en dit is geformaliseer in ’n sekere juridiese benadering oor die saak.

Oor die kwessie van historiese skuld in Suid-Afrika is, in elk geval op politieke vlak, reeds besluit. Die paradigma wat die ANC aan die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) voorgehou het – wat, met sekere nuanses, basies deur die WVK aanvaar is – was dat daar twee kante in die bevrydingstryd was. Oorvereenvoudig, was dit die “slegte ouens” (die apartheidsregering) teen die “goeie ouens” (die bevrydingsbewegings, veral die ANC/SAKP).

Volgens die ANC was daar “an unjust cause on one side and a just cause on the other”. Enersyds was “the philosophy and practice of the use of force to ensure the perpetuation of the [apartheid] system” inherent in die stelsel van wit minderheidsregering. Apartheid het die wêreld in twee dele gekategoriseer, “humans with a right to govern and sub-humans privileged to be governed”. Dit kon slegs in stand gehou word deur “the concentrated expression of the unlimited right to the use of force”. Andersyds het die bevrydingsbewegings die morele en juridiese reg gehad om geweld vir die bereiking van hul vryheid te gebruik. “Thus, it would be morally wrong and legally incorrect, for instance, to equate apartheid with the resistance against it. While the latter was rooted in the principles of human dignity and human rights, the former was an affront to humanity itself.”2

Daar is ook ’n ander moontlike paradigma, wat egter nooit behoorlik geartikuleer is nie. Dit is dalk die beste verwoord deur wyle genl. Constand Viljoen, wat in 1996 by die debat oor die aanvaarding van die Wet op Waarheid en Versoening aan ’n parlementêre komitee gesê het “dat ons almal maar mal was, dat ons almal maar ’n donker kant gehad het.”3 Met ander woorde, pleks van “goeie ouens” teen “slegte ouens”, het álmal wat aan die stryd deelgeneem het, elemente van “goed” en “sleg” bevat.

Die doel van dié artikel is om dié probleem te ondersoek.

Author Biography

Leopold Scholtz, Noordwes-Universiteit

Buitengewone hoogleraar, Geskiedenis, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2022-03-11
Section
Navorsings- en Oorsigartikels