Wat van plekke, rolle en ampte? Want die reg gaan oor meer as individuele regte

What about places, roles and offices? Because the law is about more than individual rights

  • Koos Malan Universiteit van Pretoria
Keywords: abstrakte individuele regte, Christendom, Griekse tradisie, denkbeelde, Romeinse reg, opvatting, juriste, reg in die objektiewe sin, reg in die subjektiewe sin, Plato, Aristoteles, Hobbes, nominalisme, Willem van Ockham, die denkbeelde van plek, rol, amp, hoedanigheid, verantwoordelikheid en roeping

Abstract

Individuele regte, meer bepaald die denkbeeld van abstrakte, gelyke, universele, subjektiewe menseregte oorheers tans die regsdiskoers en -praktyk. Dit is egter van onlangse oorsprong, want hierdie denkbeeld het eers gedurende die rewolusionêre tydvak in die laaste kwart van die agtiende eeu sterk op die voorgrond getree en toe ná die Tweede Wêreldoorlog beslissend geseëvier.

In hierdie bespreking word die opkoms van die individu eers nagegaan en daarna dié van individuele regte. Dit word gedoen met verwysing na die Klassieke Griekse denke, die klassieke Romeinse reg en die daaropvolgende Middeleeuse tradisie tot by die Vroeg-Moderne tydvak. In plaas daarvan dat die individu met (individuele) regte in ’n potensieel of daadwerklike verhouding van spanning met ander individue met soortgelyke (botsende) individuele regte as die wesenlike eienskap van die reg beskou is, is die reg eerder kosmies beskou, dit wil sê, as ’n objektiewe regsgeheel waarbinne mense uiteenlopende toegewese rolle vertolk het.

By die beantwoording van die vraag of ons enigsins baat te vind het by hierdie pre-moderne beskouings is die uitgangspunt, in navolging van Danie Goosen, dat ons met hermeneutiese oordeel eerder as met dogmatiese drif te werk moet gaan. Daarvolgens word die uiterstes vermy om die klassieke denkbeelde óf heeltemal (progressiwisties) te verwerp óf dit reaksionêr op ons huidige werklikheid te probeer oorplant.

Teen hierdie agtergrond word hier geredeneer dat die volgende ses denkbeelde wat verder in Deel 4 uitgepluis word, náás individuele regte ’n belangrike bydrae te lewer het tot ’n meer omvattende, realistiese en harmoniese begrip van wat die reg behoort te behels. Die denkbeelde is plek, rol, amp, hoedanigheid, verantwoordelikheid en roeping.

Author Biography

Koos Malan, Universiteit van Pretoria

Departement Publiekreg, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Published
2022-03-11
Section
Navorsings- en Oorsigartikels