Die transformasie van die Suid-Afrikaanse gevangeniswese tot ’n openbare instelling met positiewe vrede as waardestelsel

Transforming the prison system in South Africa into a public institution with positive peace underlying its values

  • Casper Lötter Noordwes-Universiteit
Keywords: vredemakende kriminologie, konfliktransformasiebeweging, vrede deur vreedsame wyses, hervestiging van vrygelate gevangenes, positiewe vrede as waardestelsel, transformasie van die gevangeniswese, fel stigmatiserende beskamingskulture, integrerende beskamingskulture, basiese menslike behoeftes, paradigmaverskuiwing

Abstract

Tradisionele benaderings in hoofstroomkriminologie formuleer misdaadbekamping as ’n voortdurende of voortslepende konflik waarin geweld as ’t ware met geweld beveg moet word. In teenstelling hiermee word nuwer rigtings in kritiese kriminologie in hierdie artikel verken en onderskryf – benaderings wat positiewe vrede beskou as ’n effektiewe en blywende(r) “antwoord”, selfs al is dit net ten dele, op die probleem van misdaad. Die ietwat onkonvensionele benadering in rigtings wat krities teenoor hoofstroomkriminologie staan, in die besonder die vertakking bekend as “vredemakende kriminologie” (Quinney en Pepinsky se bydrae), word in samehang met belangrike werk in die breër konfliktransformasiebeweging beskou. Op grond daarvan word betoog dat vrede wat op vreedsame wyse bewerkstellig word, groter voordeel inhou as die mislukte pogings tot dusver om geweld met geweld te (probeer) beveg.

Dit verg egter ’n paradigmaverskuiwing. In hierdie bydrae word daar spesifiek gevra na die wenslikheid daarvan om die Suid- Afrikaanse gevangeniswese te transformeer van ’n openbare instelling wat negatiewe vrede (in die vorm van die afwesigheid van misdaad) verskans, tot ’n instelling wat positiewe vrede as ’n waardestelsel onderskryf. Hierdie waardevolle gedagte staan sentraal by Galtung. Daar word veral aan die hand gedoen dat die bekendstelling van oop gevangenisse (soos in Zimbabwe, Mosambiek en die Seychelle) en ander modelle wat in Suid-Afrika ondersoek word, ’n goeie tussentydse maatreël is. Wat sentraal staan in my redenasie rakende die transformasie van die gevangeniswese in Suid-Afrika, is dat so ’n voorstel slegs haalbaar is indien daar aan (vrygelate) gevangenes se basiese menslike behoeftes (Burton se belangrike bydrae) – werkverskaffing, respek, ens. – voldoen word. Teen die agtergrond van Pat Carlen se waarskuwing dat die rehabilitasieparadigma ontoereikend geword het weens politieke onwilligheid om grondliggende veranderinge aan te bring, word enkele besware oor die gevaar van ’n sogenaamde oorkoepelende “carceral spread” (aldus Foucault), gemik teen alternatiewe vir gevangenisstraf, oorweeg. Hierdie bespreking vind plaas in die konteks van die breër gevangenistransformasiediskoers hier te lande. Hoewel ek skepties staan teenoor die moontlikheid dat akademiese diskoers, soos hierdie bydrae, beleidsoorwegings wesenlik kan beïnvloed, doen ek nietemin aanbevelings in die hoop dat hierdie verkennende studie belangstelling in ’n vreedsame alternatief vir misdaadbekamping sal prikkel.

“We also know from historical experience, that extreme inequality of the kind of levels we observe in South Africa is not good for development and growth, and it can also lead to violent reactions and violent events. And we all have in mind the very violent episodes at Marikana three years ago, and we know from historical experience that if inequality is not addressed through peaceful means and peaceful democratic institutions it’s always potentially a source of violence. And, of course, this can happen again.” Piketty (2015)

“To reduce crime we must reduce relative deprivation [the perception that resources are unfairly distributed] by ensuring that meaningful work is provided at fair wages, by providing decent housing which people are proud to live in, by ensuring that leisure facilities are available on a universal basis, and by insisting that policing is equally within the rule of the law, both for the working class and middle class, for blacks and for whites.” Young (1991:154-155)

Author Biography

Casper Lötter, Noordwes-Universiteit

Nadoktorale navorsingsgenoot, Skool vir filosofie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2021-12-11
Section
Vol 61 Nr 4 (2)