Propagandataal: Kwantifiseerders en voornaamwoorde

Propaganda language: Quantifiers and pronouns

  • Ansie Maritz Universiteit van Pretoria
Keywords: propaganda, taaleienskappe van propaganda, politieke taalgebruik, Suid-Afrikaanse politiek, Jacob Zuma, Nkandla, staatskaping, Guptas, Sistemies Funksionele Linguistiek, tekstuele analise, diskoersanalise

Abstract

Verskeie studies is al oor die taalgebruik van propaganda gedoen, maar dikwels met behulp van kritiese diskoersanalise, wat die klem op magsverhoudinge plaas en wat dikwels gebruik word om teksspesifieke afleidings te maak. Met die doel om gesistematiseerde afleidings oor die taaleienskappe van propaganda in die breë te maak, word Sistemies Funksionele Linguistiek in hierdie artikel gebruik.

Ná die sortering van tekste as propaganda- of niepropagandatekste (as kontrolegroep) met behulp van ’n inhoudelik-gebaseerde sorteringsmodel, is die gebruik van kwantifiseerders en voornaamwoorde in beide teksgroepe geanaliseer. Die studie is ’n kwalitatiewe studie: elke teksgroep bestaan uit agt tekste waarvan ses tekste Engels en twee Afrikaans is. Die tema van die tekste is oudpresident Jacob Zuma se betrokkenheid by die Nkandla- en staatskapingskandale in Suid-Afrika.

Die gevolgtrekkings sluit die volgende in: niespesifieke kwantifiseerders kan in propagandatekste gebruik word om ware inligting te verdoesel en spesifieke kwantifiseerders kan weer gebruik word om wetenskapsdiskoers (wat mediadiskoers moet insluit) na te boots om geloofwaardigheid te verhoog. Voornaamwoorde kan gebruik word om spesifieke eienaarskapskakels te maak, maar soos dit die propagandis se saak pas. Kataforiese voornaamwoorde (as deel van aanwysende voornaamwoorde) kan weer gebruik word om afstand te skep, wat die propagandis help om defleksie te bewerkstellig. Buiten vir die gewone kohesiefunksie, word die herhaling van sekere voornaamwoorde vir strategiese doeleindes gebruik.

Alhoewel daar ’n ooreenkoms in beide teksgroepe bestaan wat die ideasionele metafunksie betref, maak ’n propagandis in ’n groter mate op die interpersoonlike funksie staat om ’n ekstra betekenislaag in die teks te integreer.

Author Biography

Ansie Maritz, Universiteit van Pretoria

Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Published
2021-12-11
Section
Vol 61 Nr 4 (1)