Wat kom ná Suid-Afrika se fiskale afgrond?

What comes after South Africa’s fiscal cliff?

  • Fanie Joubert Universiteit van Suid-Afrika
  • Jannie Rossouw Universiteit van die Witwatersrand
Keywords: ekonomiese leksikon, fiskale afgrond, fiskale volhoubaarheid, maatskaplike toelaes, mislukte staat, staatsdienssalarisse, rente op staatskuld, staatskuld

Abstract

Die navorsing gee ’n perspektief op Suid-Afrika se vooruitsigte indien die land by wyse van spreke oor die rand van die fiskale afgrond sou stort. Die definisie van die fiskale afgrond wat in hierdie artikel gebruik word, het betrekking op die punt waar maatskaplike toelaes, rente op staatskuld en staatsdienssalarisse die totale inkomste van die Suid-Afrikaanse regering oorskry. Hierdie kantelpunt is reeds in die 2020/21- fiskale jaar bereik, maar die verwagting is dat dit slegs tydelik van aard is. Daar is dus beperkte ruimte om ’n permanente fiskale krisis af te weer, maar dan moet die salarisrekening van die staatsdiens ingekort word. Terselfdertyd sal die regering meer realisties vir laer ekonomiese groei en dus laer groei in  belastinginkomste moet begroot.

Die punt waar die fiskale afgrond bereik word, word met behulp van die fiskale afgrondbarometer bereken. Hiervolgens het Suid-Afrika se posisie dramaties verswak oor die afgelope dekade, onder meer omdat staatsdienssalarisse en rentebetalings op staatskuld té vinnig gegroei het. Terselfdertyd het inkomste baie stadiger gegroei weens die inkrimping in Suid-Afrika se potensiële en werklike ekonomiese groeikoerse.

Die navorsing oor die fiskale afgrond het ’n impak op regeringsbeleid gehad, maar dit is waarskynlik ’n geval van “té min, té laat”. Opsommenderwys kan die belangrikste bydrae van die navorsing beskou word as (i) die insluiting van die frase “fiskale afgrond” in die Suid-Afrikaanse leksikon, (ii) ’n duidelike fokus op die probleem in die burgerlike samelewing, (iii) deursigtige rapportering oor die staatsdienssalarisrekening deur die regering, en (iv) ’n fokus op bestedingsvergelyking met die inkomstekant van staatsfinansies, eerder as die uitgawekant.

As Suid-Afrika in gebreke sou bly om ’n fiskale afgrond af te weer, bestaan die risiko dat die land se toekoms sekere elemente van ’n mislukte staat (“failed state”) mag insluit. Fondse vir dienslewering sal meer beperk wees terwyl rentebetalings op staatskuld onder druk sal kom, wat tot likiditeitsprobleme by pensioenfondse kan bydra. Die enigste opsie is dus vir die Suid-Afrikaanse regering om ’n fiskale afgrond te vermy.

Author Biographies

Fanie Joubert, Universiteit van Suid-Afrika

Departement Ekonomie, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika

Jannie Rossouw, Universiteit van die Witwatersrand

Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika

Published
2021-06-17
Section
Navorsings- en Oorsigartikels