Geloof, gelykheid en die beskeie sistemiese rol van eiendomsreg in die Beloftebos-saak

Religion, equality and the modest systemic role of property law in the Beloftebos case

  • Elmien Du Plessis Noordwes-Universiteit
Keywords: selfdegeslaghuwelike, gelykheid, geloof, beskeie sistemiese rol van eiendomsreg, grondwet, sakereg, sakeregteorieë

Abstract

Vroeg in 2020 het ’n trou-venue in die Kaapstad-omgewing geweier dat twee vroue met mekaar trou op hul perseel. Dit sal inbreuk maak op hul eie geloofsoortuigings, het die eienaars beweer. Baie mense het ter ondersteuning van die optrede aangevoer dat die besigheid die reg van toegang tot die perseel mag voorbehou. Op grond van sekere inhoudsbevoegdhede wat spruit uit eiendomsreg, soos die bevoegdheid om toegang te weier op grond van geloofsoortuigings, het die eienaars vervolgens geargumenteer dat die uitsluiting regverdigbaar was. Eiendomsreg hou sekere belangrike bevoegdhede vir die eienaar in, soos om iemand van jou eiendom te kan uitsluit. Sommige mense sal redeneer dat ’n kontekstuele benadering vereis dat daar in spesifieke omstandighede bepaal word of – en tot watter mate – uitsluiting geregverdig is. Ander aanvaar dat die reg om mense uit te sluit absoluut en duidelik in reëls vasgevat is, en dat dit die basis van die reg tot eiendom vorm. Meer progressiewe eiendomsteorieë bied normatiewe argumente wat die beperking van eiendomsreg ondersteun – soos dat menswaardigheid belangrik is, of dat uitsluiting in elk geval onderworpe is aan soveel ander voorwaardes dat ’n eenvoudige reëling van “bly uit!” nie neergelê kan word nie. AJ van der Walt voer egter aan dat eiendomsreg eintlik ’n beskeie sistemiese rol in die reg speel – soos dit hoort. Met ander woorde, in sommige gevalle word verskille wat handel oor eiendomsgebruik besleg deur eerder nie-eiendomsregte, soos die reg op lewe, menswaardigheid, gelykheid en vryheid van spraak, te beskerm. In hierdie gevalle speel eiendomsreg ’n beskeie of ondergeskikte rol. Daar is dikwels belangrike en sistemiese redes hoekom dergelike regte, wat nie regstreeks met eiendom verband hou nie, bo eiendomsregte beskerm moet word. Aan die hand van die bogenoemde teorie beoog hierdie artikel om die rol en plek van eiendomsregreëls te ondersoek in gevalle waar eienaars steun op die inhoudsbevoegdheid van uitsluiting op grond van geloofsoortuigings.

Author Biography

Elmien Du Plessis, Noordwes-Universiteit

Fakulteit Regte, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2021-03-22
Section
Navorsings- en Oorsigartikels