Knelpunte by regsbeskerming van inheemse spirituele kennis, openbaredomein-gebaseerde inligting en die implementering van die bestaande normkomplekse ter regulering van intellektueelgoedereregte in die Suid-Afrikaanse reg

Difficulties in the legal protection of indigenous spiritual knowledge, information in the public domain and the implementation of the existing normative systems for the regulation of intellectual-property rights in South African law

  • Andries Raath Universiteit van die Vrystaat
  • Gerhardus Verhoef Universiteit van die Vrystaat
Keywords: ineemse spirituele kennis, intellektuele goedereregte, openbare domein, Wet op Beskerming, Bevordering, Ontwikkeling en Bestuur van Inheemse Kennis 6 van 2019, Wet op Nasionale Erfenishulpbronne 25 van 1999, Wysigingswet op Intellektuele Eiendomsreg Wet 28 van 2013

Abstract

In ’n vorige artikel is daarop gewys dat die voorgenome beskerming van inheemse kennis ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing ’n groot impak op openbaredomein-gebaseerde kennis sal hê. In daaropvolgende navorsing is aangetoon dat die effek van die addisionele sui generisbeskerming van inheemse kennis ’n onoorsigtelike spektrum van openbaredomein-gebaseerde kennis affekteer en dat inheemse groeppersone eiendomsregte staan te verwerf, wat ’n groot spektrum van openbaredomein-gebaseerde kennis privatiseer. Ten einde die effek van die inwerkingtreding van die betrokke wetgewing op die beskerming van spirituele kennis van inheemse gemeenskappe te bepaal, moet op die verband tussen inheemsekennisbeskerming en ubuntu-georiënteerde spirituele kennis gewys word, asook die effek daarvan op inheemsekennisbeskerming as ’n kategorie van die beskerming van kulturele kennis. Hoewel die verband wat ubuntu-spiritualiteit met inheemse kennis handhaaf, nie spesifiek in die betrokke wetgewing aangedui word nie, is dit implisiet ingesluit by die omvattende omskrywing van inheemse kennis in die IK-Wet, 2019. Die Wet definieer “inheemse kennis” as kennis wat binne ’n inheemse gemeenskap ontwikkel is, welke kennis in die kulturele of sosiale identiteit van sodanige gemeenskap opgeneem is, en sluit die volgende in: (a) kennis van funksionele aard; (b) kennis van natuurlike hulpbronne; en (c) inheemse kultuuruitdrukkings (artikel 1). “Kulturele en sosiale identiteit” word vervolgens beskryf as die spesifieke onderskeidende identiteit of eienskappe (“characteristics”) van ’n bepaalde groep, of van ’n individu vir sover sodanige individu deur sy/haar lidmaatskap van ’n bepaalde groep of kultuur beïnvloed is (artikel 1). Ingevolge die vereistes ter beskerming van inheemse kennis ingevolge artikel 11, word spirituele kennis wat met ubuntu geassosieer word, by inheemse kennis ingesluit, synde (a) kennis wat binne inheemse gemeenskappe van geslag tot geslag oorgedra is; (b) binne inheemse gemeenskappe ontwikkel is; en (c) met die kulturele en sosiale identiteit van sodanige inheemse gemeenskappe geïdentifiseer word (artikel 11). Teen dié agtergrond word twee vrae in hierdie artikel vir bespreking uitgesonder: (a) Wat is die implikasies van die insluiting van ubuntu-gebaseerde spiritualiteit by die intellektuele goedere wat in die nuwe wetgewing ter beskerming van inheemse kennis uitgesonder word?, en (b) in welke mate is dié inheemseregbeskerming belyn met die bestaande normkomplekse ter regulering van intellektuele goederegte?

Author Biographies

Andries Raath, Universiteit van die Vrystaat

Departemente Geskiedenis, Filosofie en Publiekreg, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika

Gerhardus Verhoef, Universiteit van die Vrystaat

Direkteur: Kontrakte en Innovasie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika

Published
2021-03-22
Section
Navorsings- en Oorsigartikels