Suid-Afrika se hoogste hof gee die gemeenregtelike verweer van ouerlike bevoegdheid tot redelike en matige tugtiging ’n doodskoot: Nabetragting oor die saak van Freedom of Religion SA v Minister of Justice and Others 2020 (1) SA 1 (KH)

South Africa’s highest court deals a mortal blow to the common-law defence of parental authority to administer reasonable and moderate correction: Reflecting on the case of Freedom of Religion SA v Minister of Justice and Others 2020 (1) SA 1 (CC)

  • Bernard Bekink Universiteit van Pretoria
Keywords: redelike en matige tugtiging, lyfstraf, gemenereg, beste belang, aanranding; menswaardigheid, beperking van regte, tugtigingsbevoegdheid, positiewe ouerskap, opvoeding, geweld

Abstract

Die regsdebat oor die geldigheid van die gemeenregtelike verweer waaroor ouers tot onlangs nog binne die Suid-Afrikaanse regstelsel beskik het, naamlik die bevoegdheid tot redelike en matige tugtiging van hulle kinders, word al meer as ’n honderd jaar lank in Suid-Afrika gevoer. Nieteenstaande die lang duur van die debat en die belangrike uitwerking van die staatsregtelike ontwikkeling in Suid-Afrika onder die Grondwet van die RSA, 1996, in samehang met die vereistes van die internasionale reg, het daar eers in September 2019 regsekerheid oor dié bepaalde regsvraag gekom. In Freedom of Religion SA v Minister of Justice and Others het die Konstitusionele Hof, Suid-Afrika se hoogste hof, beslis dat die gemeenregtelike verweer van ouerlike bevoegdheid tot redelike en matige tugtiging van hulle kinders, selfs in hulle private wonings, ongrondwetlik en derhalwe ongeldig is. Ná opweging van al die mededingende belange en regte van sowel ouers as hulle kinders kom die hof tot die finale beslissing dat daar regtens geen regverdiging meer bestaan vir die voortgesette behoud van fisieke ouerlike tugtiging nie, selfs nie eens op grond van godsdienstige riglyne nie, en derhalwe ook nie vir die volgehoue inbreukmaking op die regte van kinders wat aan sodanige tugtigingspraktyke blootgestel word nie. Tensy daar ander regswysigings binne die Suid-Afrikaanse regstelsel aangebring word, beteken hierdie beslissing van die hof dat die toediening deur ouers van redelike en matige fisieke tugtiging aan hulle kinders ’n finale doodskoot gekry het. 

Author Biography

Bernard Bekink, Universiteit van Pretoria

Publiekreg, Fakulteit Regte, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Published
2021-03-18
Section
Navorsings- en Oorsigartikels