Godsdiens en die reg

  • Helena Van Coller

Abstract

Die aktualiteit van ’n gesprek oor godsdiens en die reg was nog nooit so relevant soos juis nou nie. Die vraag of gemeentes wat afstig van ’n kerkverband die kerke waarin hulle aanbid besit, beland in Oktober 2020 voor die hooggeregshof in Pretoria. Om nie eens te praat van die twis in die NG Kerk oor gay-huwelike en die moontlike kerkskeuring nie. Voorts het die onlangse weermagherrie oor die moslemkopdoek en verskeie ander godsdienstige dispute in die werkplek, in skole en onwettige optredes deur kerkleiers, die soeklig opnuut laat val op die plek van godsdiens in ons samelewing en die spanning tussen godsdiens en die reg wat hom op vele ander lewensterreine afspeel. Die vonke spat daagliks tussen mense en gemeenskappe oor verskeie godsdienstige praktyke en rituele. Ons lees van pogings om kerke en godsdiens in Suid-Afrika te reguleer, maar ook van verskeie godsdienstige groepe wat ander se regte onherroeplik aantas in die naam van godsdiens. Die howe word ingesleep by godsdienstige dispute wat ook weer die reg op godsdiensvryheid op die voorgrond plaas en die steeds moeilike verhouding van kerk en staat in Suid-Afrika uitlig. Dit is opmerklik dat kerke al hoe meer betrokke raak by regsdispute. Hierdie konflikte het verskeie oorsake en sluit sake soos finansiële wanbestuur, wangedrag van kerklike werknemers, onbehoorlike en selfs diskriminerende praktyke binne baie gemeentes in.

Published
2021-03-18
Section
Voorwoord