Manifestasies van sintuiglikheid in enkele gedigte ingesluit by twee digitale Byderhand-installasies te Worcester

Manifestations of sensory perception in some poems included in two digital Byderhand installations at Worcester, South Africa

  • Bernard Odendaal Noordwes-Universiteit
Keywords: Byderhandprojek, plekspesifieke digitale poësie, sintuiglikheid, ekstero-reseptore, intero-reseptore, kulturele bepaaldheid, siggestremdheid, Worcester, psigo-analise, Jacques Lacan, beliggaamde persepsie, ingeplaastheid

Abstract

In die Westerse tradisie word veral sig, maar ook gehoor, as ’n “hoër” sintuiglike vermoë geag. Hiertoe dra die versnelde opkoms van ’n wetenskapskultuur oor veral  die afgelope twee eeue by. Beelding gebaseer op veral visuele waarneming oorheers ook in die digkuns, soos waarneembaar is in die meeste gedigte opgeneem in twee Byderhandprojek- digitale installasies by die Pionierskool en in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin te Worcester.

Die tassintuig speel ’n belangrike rol in siggestremdes se verkenning van voorwerpe en ruimtes. Betasting verg beweging, sodat siggestremdes se waarnemingswyse deur beweging gekenmerk word. Analogisering van sintuiglike waarnemings (sinestesie) is nog ’n strategie wat dikwels deur hulle benut word. Meer onlangse navorsing beklemtoon dat daar, naas die uiterlike sintuie, ook intero-reseptore (vir waarneming van, byvoorbeeld, balans en beweging) is wat die mens se persepsie bepaal. Sodoende word beliggaamde belewing moontlik.  Laasgenoemde dien as teenvoeter vir die kultureel en talig gemedieerde omgang met verskynsels wat, in Lacaniaanse terme, so kenmerkend die Simboliese Ordening daarvan oorheers. 

Vier gedigte uit die Byderhandprojek-versameling te Worcester wat in hierdie artikel bespreek word demonstreer, op verskeie wyses, bogenoemde aspekte van sintuiglikheid. Die ingeplaastheid van estetiese belewing wat hierdie geïnstalleerde tekste bemiddel, korreleer voorts met die begeerte na liggaamlike toenadering tot die Karoo-natuurverskynsels wat in die gedigte uitgedruk word.

Author Biography

Bernard Odendaal, Noordwes-Universiteit

Vakgroep Skryfkuns, Fakulteit Geesteswetenskappe, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2020-12-15
Section
Navorsings- en Oorsigartikels