Omgewingsidentiteit in die Era van die Mens: Nuwe perspektiewe op Toorbos. Deel 2

  • Susan Meyer Noordwes-Universiteit
Keywords: Antroposeen, omgewingsidentiteit, Toorbos, Dalene Matthee, omgewingshoudings en -gedrag, Susan Clayton, Susan Opotow

Abstract

Die rolprentweergawe van Dalene Matthee se roman, Toorbos, is in 2019 vrygestel. Die mediabelangstelling in die rolprent het nuwe aandag op die roman gevestig. Die romangegewe asook die filmbeelde van die uitroei van die eeu-oue Knysnawoud en gepaardgaande ekosisteme het ons ook opnuut attent gemaak op die onthutsende kwessie van mensgemaakte bedreigings vir lewe op aarde. In die Era van die Mens word toenemende druk op die planeet se lewensonderhoudende sisteme geplaas en groei die kommer daaroor wêreldwyd. Die teoretiese raamwerk wat benut word in die ekokritiese herlees van Toorbos is Susan Clayton en Susan Opotow se omgewingsidentiteitsteorie en -model. In Deel 1 van my studie, in die September 2020-uitgawe van hierdie tydskrif, is die belang van omgewingsidenteit vanuit ’n teoretiese hoek gemotiveer. Nou, in Deel 2, word dit prakties geïllustreer deur die toepassing van Clayton en Opotow se omgewingsidentiteitsmodel op ’n analise van die hooffigure in Toorbos. Die bevinding is dat Karoliena en Johannes, ongeag verskeie gedeelde agtergrondfaktore, uiteenlopende rigtings inslaan wat omgewingshouding- en gedrag betref – spesifiek weens omgewingsidentiteitsverskille. Hierdie kwessie gee tot spanning en onherstelbare verhoudingskade aanleiding. Toorbos illustreer hoe kragtig omgewingsidentiteitskwessies op menseverhoudings sowel as op omgewingsgedrag en -oortuigings kan inspeel. Deur omgewingsidentiteit as betekenisvolle gegewe in die werklike lewensituasie te ag, mag die kontoere van omgewingsdebatte op praktiese en vrugbare wyse verlê word. Die klein snit uit die Suid-Afrikaanse werklikheid wat Toorbos bied, mag bewustheid skep vir die belangrike implikasies van voldoende insig omtrent omgewingsidentiteit in die Era van die Mens, ten einde verskillende beskouings en hanterings van omgewingsprobleme volledig te begryp en konstruktief te hanteer.

Author Biography

Susan Meyer, Noordwes-Universiteit

Skool vir Taalonderwys, Fakulteit Opvoedkunde, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika

Published
2020-12-15
Section
Navorsings- en Oorsigartikels