Eksplorasies in ’n postnormale landskap: Suid- Afrika duskant en anderkant Covid-19

  • Philip Spies Universiteit Stellenbosch
  • Chris Jones Universiteit Stellenbosch
Keywords: kompleksiteit, sisteemdenke, postnormale tye, postnormale kruiping, onsekerheid, onkunde, kognitiewe tuisland, swart olifant, swart swaan, swart jellievis

Abstract

Die Covid-19-pandemie is aanvanklik gekenmerk deur lewensbedreigende griepagtige infeksies, maar later het grootskaalse beheergedrewe ontwrigting die toon begin aangee. Die inperkingsmaatreëls vir infeksiebeheer het mense van hul werkplek, hul vriende, hul familie en hul ontspanningsgeriewe afgesny. Voorsieningskettings het verbrokkel, sakeondernemings het ineengeval en werkloosheid het toegeneem. Die uiteindelike maatskaplike en ekonomiese gevolge hiervan is vandag onpeilbaar en dit bring groot verwarring mee: dit is ’n golf van verandering wat nie beheer kan word nie; dit kan hoogstens verstaan en gestuur word. Deur terugskouing en nadenke het mense skielik begin besef dat daar reeds dekades gelede waarskuwings gepubliseer is oor die moontlikheid van ontwrigtende globale griepagtige pandemies. Waarom is tóé nie daarop ag geslaan nie? ’n Tweede vraag is waarom het hierdie pandemie die bestaande wêreldorde sodanig ontwrig dat mense sukkel om oplossings daarvoor te vind. Drie toekomsnavorsers by die internasionale Centre for Post-normal Policy and Futures Studies beskryf die Covid-19-pandemie as ’n “perfekte postnormale storm” en voeg daarby dat ons vandag in “postnormale tye” leef. Hierdie artikel gebruik enkele aspekte van hulle navorsing om die Covid-19-ontwrigting te verklaar en ook van toepassing te maak op die Suid-Afrikaanse situasie. Die voortstuwende ontwrigting wat Covid-19-beheermaatreëls veroorsaak het, is in wese kompleks sistemies. Dit is ’n groot uitdaging om kompleks sistemiese verandering te verstaan vanuit gevestigde gespesialiseerde kennis (“kognitiewe tuisland”). Dit vereis eers die erkenning van “onoorwinlike onkunde” in die gevestigde denkpatrone en dat ou denke daarom vervang moet word deur nuwe denke: ’n eksplorasie in die denklandskappe van wêreldbeskouings, paradigmas, waardes, mites, metafore en perspektiewe. Die rol van geleide selforganisasie deur die bestuur van sogenaamde “vreemde aanlokkers” (strange attractors) word bespreek. In ’n maatskaplik-ekonomiese omvorming kan onder meer inligtingsbestuur, waardebestuur en leerprosesse aanleiding gee tot nuwe kollektiewe insigte, paradigmaskuiwe en nuwe wêreldbeskouings, wat as “vreemde aanlokkers” vir geleide selforganisasie kan dien. 

Author Biographies

Philip Spies, Universiteit Stellenbosch

Emeritus professor in Toekomsstudies, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika

Chris Jones, Universiteit Stellenbosch

Eenheid vir Morele Leierskap, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika

Published
2020-12-15
Section
Navorsings- en Oorsigartikels