Probleme met en ná die direkte vertaling

Problems with and after the direct translation

  • Daan Cloete Universiteit van Wes-Kaapland
Keywords: brontaal, bronteks, doeltaal, tekskritiek, autographa, literatuursoorte, antieke taal, statiese taal, moderne taal, meertalige konteks

Abstract

Hierdie bydrae bespreek Bybelvertaling teen die agtergrond van die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel. Dit gee aandag aan die probleem verbonde aan ’n poging om die betekenis opgesluit in ’n teks in ’n antieke taal, Grieks, te vertaal in ’n moderne, dinamiese taal, Afrikaans. Die antieke taal bevat ’n belangrike boodskap vir alle tye, maar die oorspronklike taal waarin die teks geskryf is, is nie toeganklik vir alle hedendaagse lesers nie. Beide tale moet geïnterpreteer word en beide bied unieke uitdagings aan die proses. Wat die Grieks betref, is die bedoeling om die betekenis wat in die teks in sy oorspronklike konteks ingesluit is, te ontsluit, juis omdat die taal nie meer gepraat word nie. Vertaling begin met die konstruksie van ’n bronteks uit die beskikbare materiaal, omdat die oorspronklike manuskripte om verskillende redes nie meer beskikbaar is nie. Dit noodsaak die intensiewe bestudering van die eienskappe van die grondteks en die wêreld waarin dit as ’n kommunikasiemiddel gedien het, naamlik die Ou Nabye Ooste. Afrikaans is weer ’n dinamiese taal van vandag en juis omdat dit dinamies is, is die idiomatiese inhoud daarvan steeds in ’n proses van verandering. Dit is toe te skryf aan die altyd veranderende omgewing waarin die taal hom bevind. Dit word primêr in Suid-Afrika gepraat, in ’n meertalige konteks, wat aan die een kant die inhoud en gebruik van die taal kan verryk, maar wat, aan die ander kant, die bestaan van die taal bedreig, omdat die gebruikers daarvan beperk word. ’n Ander uitdaging is dat daar geen duidelikheid is oor die praktiese aanwending van die elf amptelike tale in die land nie. Dit lyk asof Engels die voorkeurtaal van kommunikasie geword het. Vertaling is belangrik omdat die oorspronklike Griekse grondteks ’n belangrike boodskap verkondig, die Goeie Nuus wat altyd relevant bly. Die 2020-vertaling is deur die Afrikaanssprekende kerke versoek ter wille van prediking, kategese, aanbidding en persoonlike gebruik. Uit ’n literêre oogpunt behoort die verskyning van hierdie vertaling die taal se plek in ’n meertalige konteks te versterk omdat ’n beduidende deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap Afrikaans gebruik as die taal van aanbidding. 

Author Biography

Daan Cloete, Universiteit van Wes-Kaapland

Nuwe Testament, Universiteit van Wes-Kaapland, Suid-Afrika

Published
2020-12-15
Section
Mening