Taalverandering in die Afrikaanse vertalings van die Evangelie van Markus

Language change in the Afrikaans translations of the Gospel of Mark

  • C Jac Conradie Universiteit van Johannesburg
Keywords: attributiewe vorm, aanspreekvorm, historiese presens, historiese taalverandering, imperatief, modale partikel, negatiefpartikel, onakkusatief, ontkenning, perfektum, plusquamperfectum, voltooide deelwoord, preteritum, reduplikasie, standaardisering, taalvariasie, vertaling

Abstract

’n Sewetal vertalings van die Markus-Evangelie (in die teks aangedui deur V en die verskyningsdatum, met verdere inligting in die bibliografie) word vergelyk om na te gaan in watter mate hulle die ontwikkeling van Afrikaans in die afgelope eeu of meer weerspieël. Op die gebied van die adjektiwiese en naamwoordelike morfologie word gekyk na die verlies van die -e-uitgang van attributiewe byvoeglike naamwoorde soos ou(w)e en die toevoeging van ’n meervouds-s by afgeleide selfstandige naamwoorde soos (die) arme

Daar word nagegaan hoe aanspreekvorme soos gy, u, jy, jou en julle in verskillende gespreksituasies gebruik word. 

Die -f/-we-wisseling by werkwoorde soos sterf/sterwe en die -t/-n-wisseling by werkwoorde soos gaat/gaan word ondersoek en die funksionele verspreiding van die vorme as imperatief, persoonsvorm en infinitief nagegaan.

’n Seleksie van werkwoordelike konstruksies word ondersoek, byvoorbeeld die vervanging van deur het in (die haan) sal gekraai hê/het, die ontwikkeling van die wenskonstruksie ons wil dat u … na: ons wil hê u moet, die gebruik en verlies van preteritumvorme soos mog, werd, wis en had, die vervanging van die hulpwerkwoord is deur het by onakkusatiewe werkwoorde, soos in hulle is/het gekom, en die vervanging van die historiese presens in verhalende gedeeltes deur die perfektum.

Niewerkwoordelike konstruksies wat aan bod kom, is onder meer die gebruik van die voorsetsel vir voor ’n direkte voorwerp en die negatiefpartikel of “tweede nie” en reduplikasie.

Twee items van leksikale aard wat bespreek word, is die moontlike verwarring tussen die uitdrukking “om iets kwalik te neem” en “om iemand iets kwalik te neem” en die gebruik van modale partikels soos miskien, tog, mos en darem as semantiese aanvulling van sommige gedeeltes.

Author Biography

C Jac Conradie, Universiteit van Johannesburg

Departement Tale, Kultuurstudies en Toegepaste Linguistiek (LanCSAL), Skool vir Tale, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van Johannesburg, Suid-Afrika

Published
2020-12-15
Section
Navorsings- en Oorsigartikels