Voorwoord

  • Christo H J Van der Merwe
  • Herrie Van Rooy

Abstract

Die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans was in baie opsigte ’n ambisieuse projek. Die versoek van kerke in die laat 1990’s vir ’n vertaling wat nader aan die bronteks is, het ’n verskeidenheid uitdagings gebied, byvoorbeeld onsekerheid en verskil van mening oor hoe ’n vertaling van die Bybel “nader aan die bronteks” kom; die fokus in Bybelvertaalkringe op die sogenaamde funksioneel-ekwivalente benadering tot Bybelvertaling, waarin verstaanbaarheid van die bronteks vir moderne lesers tipies meer gewig gedra het as getrouheid aan die kompleksiteite van die brontale, en ook die andersheid van die antieke brontaalkulture; die vereiste dat die vertaalproses en eindproduk inklusief en verteenwoordigend moet wees van al die potensiële lesers, om slegs enkeles te noem. Om die projek te bestuur, sou meer as Salomo se wysheid verg. Die projekleier moes die vermoë hê om fyn, onbevange en geduldig te luister, moes onder alle omstandighede die belange en doelwitte van die projek bo persoonlike voorkeure kon stel, moet met gewone lesers sowel as akademici met uiteenlopende (en soms onrealistiese) verwagtinge in ’n verskeidenheid vakrigtings en met soms botsende teoretiese agtergronde kon werk, en moes bereid wees om onvermoeid en soms ongewone en lang ure, dikwels weg van sy eie huis, te werk. So ’n projekleier was Bernard Combrink. Dit is ’n voorreg om hierdie bundel aan hom op te dra – ’n mens wat groot deernis het en die respek afdwing van almal wat sy pad kruis. Met sy menslikheid, sy akademiese integriteit en sy werkywer was hy vir meer as 15 jaar die spilpunt van die projek waaroor hier berig word.

Published
2020-12-14
Section
Voorwoord