Die Covid-19-pandemie: ’n Geleentheid tot besinning oor die mens se plek in verhouding met die natuur?

The Covid-19 pandemic: An opportunity for reflection on the place of humanity in relation to nature?

  • Bert Olivier Universiteit van die Vrystaat
Keywords: kapitalisme, koronavirus, natuur, netwerksamelewing, pandemie, nekropolitiek

Abstract

Die huidige artikel het betrekking op die koronavirus-pandemie wat tans (Augustus 2020) onversteurd dwarsoor die wêreld woed. Die vraag word gestel of die pandemie nie moontlik aan die mensdom ’n gulde geleentheid bied om te (her-)besin oor sy plek in die natuur nie, en terselfdertyd oor wat die pandemie ten opsigte van mense se toekoms op aarde impliseer – waar eersgenoemde vraag bevestigend beantwoord word en daar uitgebrei word op die implikasies van die tweede. Daar word aandag gegee aan wetenskaplike getuienis dat die mens self verantwoordelik is vir die verskyning van die nuwe koronavirus, en dat dit kousaal verbind is aan die toenemende druk wat mense op natuurlike habitats plaas deur hul steeds binnedringende, natuurvernietigende ekonomiese praktyke. Laasgenoemde gee aanleiding tot wat Jean Baudrillard die “weerwraak” (“blowback”) van die natuur noem. ’n Uiters relevante rolprent (The Day the Earth Stood Still; Derrickson 2008) word onder die loep geneem om die ekologiese dilemma waarin die mensdom sigself tans bevind in die brandpunt te plaas, voordat die moontlikheid van ’n pandemie met die netwerkstruktuur van die globale samelewing verbind word. Ander sake wat aandag kry, is die implikasies van die pandemie vir sosiale stratifikasie in die netwerksamelewing, asook vir die moontlikheid van ’n tegnologiese distopie, wat deur Naomi Klein uitgesonder word met verwysing na die opportunistiese wyse waarop tegnokrate die pandemie probeer gebruik om met openbare fondse vir hul private projek te betaal, om kwansuis deur middel van kommunikasietegnologie menselewens te beskerm. Žižek se waarskuwing oor “barbarisme met ’n menslike gesig” word bespreek en met Foucault se begrip van “bio-politiese mag” asook met dié van “nekropolitiek” by Mbembe verbind. Die filosofiese implikasies van die Covid-19-pandemie word ook aan die hand van Deleuze en Guattari se begrippe van risoom en wording geartikuleer voordat gepoog word om die vraag, wat ’n mens onder die huidige omstandighede te doen staan, te beantwoord, wat aan die hand van Žižek en Harvey se gedagtes oor ’n alternatief vir neoliberale kapitalisme geformuleer word.

Author Biography

Bert Olivier, Universiteit van die Vrystaat

Departement Filosofie, Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika

Published
2020-12-14
Section
Navorsings- en Oorsigartikels