Analisering van die bydraende rol van die rekeningkundige professie om ons planeet te red

Analysing the contributory role of the accounting profession to save our planet

  • Anet Smit Noordwes-Universiteit
Keywords: volhoubaarheid, volhoubare ontwikkeling, finansiële rekeningkunde, bestuursrekeningkunde, omgewings-bestuursrekeningkunde, ekodoeltreffendheid, rekeningkundige professie

Abstract

Volhoubaarheid en volhoubare ontwikkeling is dikwels betwiste konsepte wat geassosieer word met ’n wye verskeidenheid verbandhoudende betekenisse en teorieë. Verskillende wêreldbeskouings deur mense en organisasies beïnvloed die manier waarop volhoubare ontwikkeling hanteer word. Om volhoubaarheid en volhoubaarheidskonsepte na te streef, is meestal in direkte konflik met die dryfveer om winste te genereer. Hierdie oorsigartikel fokus op moontlike ontwikkelinge en aanpassings in die besigheidswêreld wat ten doel het om volhoubaarheid te verseker. Met die volhoubaarheidskonsep in gedagte, is die doelwit van hierdie artikel derhalwe om die rol en bydrae van die rekeningkundige professie in volhoubare ontwikkeling te ondersoek. Vorige studies dui aan dat Finansiële Rekeningkunde onderworpe is aan standaardisering en regulering in ooreenstemming met internasionale en plaaslike vereistes en dat dit daarom moeilik is om, gegewe dergelike gestandaardiseerde regulasies, volhoubaarheid te akkommodeer. Die volgende stap was om te ontleed hoe die volhoubaarheidskonsepte in Bestuursrekeningkunde  geïnkorporeer kan word. Omrede die meting en rapportering van omgewingskostes steeds problematies blyk te wees, het ’n totale nuwe vakdissipline naamlik Omgewingsbestuursrekeningkunde ontwikkel. Die verhouding tussen monetêre inligting en verhoogde uitset enersyds en tegelykertyd daarmee die vermindering van omgewingsbesoedeling of natuurlike hulpbronverbruik andersyds, kan uitgedruk word in terme van ’n eko-doeltreffendheidsverhouding of ’n ekonomiesedoeltreffendheidsindikator (EDI). Hierdie behoefte om te meet en te ontleed, gee aanleiding tot nuwe vakdissiplines as deel van  omgewingsbestuursrekeningkunde, insluitende nuwe spesialisrigtings soos Water-rekeningkunde en Koolstofrekeningkunde wat tans ontwikkel word. Die implementering van ’n groot aantal omgewingsbestuursrekenkundige instrumente vorm die grondslag vir die bevordering van integrasie en volhoubaarheid. Bogenoemde ontwikkelinge en tendense, benader vanuit die perspektief van ’n rekeningkundige professie, kan ’n positiewe bydrae lewer tot die beskerming van ons omgewing. Groter samewerking tussen navorsers, akademici en professionele rekeningkundige liggame kan die volhoubaarheid van ons planeet bevorder.

Author Biography

Anet Smit, Noordwes-Universiteit

NWU Besigheidskool, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

Published
2020-09-29
Section
Navorsings- en Oorsigartikels