Diamantjubileum van desimalisasie: 60 jaar van Suid-Afrikaanse rand en sent

Diamond jubilee of decimalisation: 60 years of South African rand and cent

  • Jannie Rossouw Universiteit van die Witwatersrand
Keywords: desimalisasie, metrisering, politieke diskonto, Republiekwording van Suid-Afrika, rand, sent

Abstract

Die Unie van Suid-Afrika het op 14 Februarie 1961 ’n desimale geldstelsel, naamlik die rand en sent (R/c), in omloop geplaas. Die rand en sent het die imperiale geldstelsel van pond, sjielings en pennies (£/s/d) vervang. Desimalisasie in 1961 word dikwels met die republiekwording van Suid-Afrika op 31 Mei 1961 in verband gebring, maar hierdie was inderdaad twee verskillende prosesse wat net toevallig in dieselfde jaar plaasgevind het. Die besluit om ’n desimale muntstelsel in te stel is in 1956 geneem, terwyl die besluit om die volle onafhanklikheid van Suid-Afrika van die Verenigde Koninkryk as die Republiek van Suid-Afrika te oorweeg, eers in 1960 geneem is. Suid-Afrika het sy eie geldeenheid, hoewel gemodelleer op die stelsel van £/s/d soos gebruik in die VK, reeds teen 1910 in omloop gestel. Weens dieselfde benaming en struktuur (£/s/d) wat vir die twee geldeenhede gebruik is, het die algemene publiek dit verkeerdelik as homogeen beskou. Desimalisasie was dus nie die aankondiging van ’n onafhanklike geldeenheid nie; maar bloot die vervanging van een onafhanklike geldeenheid deur ’n ander.

Desimalisasie in Suid-Afrika het desimalisasie in die Verenigde Koninkryk met presies ’n dekade voorafgegaan. Die Verenigde Koninkryk het op 15 Februarie 1971 gedesimaliseer. Desimalisasie het metrisering in Suid-Afrika ook met sowat ’n dekade vooruitgeloop, met laasgenoemde wat eers op 1 April 1971 ’n aanvang geneem het.

Ten tye van desimalisasie is die waarde van R2,00 aan £1/-/- gelykgestel. Sedertdien het die wisselkoers van die rand verswak en staan dit tans op sowat R21,00 = £1,00. Met hierdie navorsing word ’n hipotese getoets vir hierdie verswakking van die wisselkoers en daar word tot die gevolgtrekking gekom dat dit onder meer aan ’n politieke diskonto van sowat 45 persent toegeskryf kan word.

Author Biography

Jannie Rossouw, Universiteit van die Witwatersrand

Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg

Published
2020-09-29
Section
Navorsings- en Oorsigartikels