Lojale verset: Gedateerd of aktueel? NP van Wyk Louw in gesprek met Foucault
Loyal resistance: Dated or topical? NP van Wyk Louw in conversation with Foucault
Abstract
In hierdie essay voer ek aan dat NP van Wyk Louw se 1939-konsep van “lojale verset”, ’n konsep gemobiliseer in die naam van Afrikanernasionalisme, desnieteenstaande sy kritiese slaankrag vir ons tyd behou as ons dit deur die lens van Michel Foucault se begrip van “transgressie” lees. Beide “lojale verset” en “transgressie” dui op ’n vrugbare spanningsveld wat die belofte inhou van die moontlikheid van bemagtigende daadkrag selfs in ’n tyd van volslae onmag. Dit is ’n tyd van globaal verswelgende magsbewegings en korrupte lokale magskonkelary. Ek betoog dat selfs in dié tyd en in hierdie “sonderlinge plek” dit moontlik is om “hoog te kan lewe” indien dit geskied in die gees van voortdurende weerstand.
Miskien ook sal ons sterwe
en iewers ruggelings stort,
dat hierdie helder aarde
in ons verdonker word.
Miskien sal niemand later
mooi dinge van ons weet,
en nêrens sin te kry wees
in al ons stryd en leed,
sal elkeen as hy magtloos
naby die sterwe lê,
net hierdie eensaam wete
uiteindelik nog hê:
dat ons nie kon gebuig word
soos húl geweld dit wou,
en dat ons hoog kon lewe
net aan ons bloed getrou.