’n Kritiek op normatiewe konstruksies van ouderdom in vier intertekstueel verbinde tekste: Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas, Reza de Wet se Diepe Grond en African Gothic, en Etienne Kallos se Eersgeborene

A critique of normative constructions of age in four intertextually connected texts: Alba Bouwer’s Stories van Rivierplaas, Reza de Wet’s Diepe Grond and African Gothic, and Etienne Kallos’s Eersgeborene

  • Danie Stander Universiteit van Stellenbosch
Keywords: Alba Bouwer, Reza de Wet, Etienne Kallos, verwerking, vertaling, aetonormatiwiteit, performatiwiteit, patriargie, gender teorie, kinderfiksie, outofiksie, outobiografie

Abstract

Hierdie artikel ondersoek die intertekstuele verhouding tussen ’n groepering tekste deur drie Suid-Afrikaanse skrywers uit drie generasies: Stories van Rivierplaas (1955-6) deur Alba Bouwer; Diepe Grond (1985), ’n drama deur Reza de Wet asook De Wet se eie Engelse vertaling en verwerking van Diepe Grond as African Gothic (2003) en Eersgeborene (2009), ’n kortfilm deur Etienne Kallos. Onder die drie skrywers kan slegs Bouwer se werk geklassifiseer word as kinderfiksie. Tog is De Wet en Kallos se tekste nie alleenlik verwerkings en toeëienings van Stories van Rivierplaas nie, maar hulle tematiseer ook kindskap en kinderjare. Ten einde Bouwer, De Wet en Kallos se kritiek op normatiewe konstruksies van ouderdom te bespreek, gebruik ek Maria Nikolajeva se konsep van “aetonormatiwiteit”, ’n ouderdomsgebaseerde norm en die spesifieke aanname dat volwassenes en volwasse ervarings normatief is, terwyl die belewenisse van ’n kind daarenteen geklassifiseer moet word as afwykend (2010:8). Aetonormatiwiteit kan dus beskryf word as ’n soort performatiwiteit (“performativity”) soos Judith Butler dit omskryf, dit wil sê ’n subjekposisie wat deur middel van sosiale meganismes voorgestel word as ’n ontologiese essensie, terwyl daar geen universele konsensus of bewys van die natuurlikheid daarvan bestaan nie (Butler 1999:viii). In lyn met die geanaliseerde tekste se tematiese gemoeidheid met kinderjare en ouerskap, gebruik ek die metafoor van moederskap om die konstruksie van ’n genetiese lens aan te wend en ek beskryf die tekste se verhouding tot mekaar as kompleks, in teenstelling met eenvoudig vyandig of korrektief.

Author Biography

Danie Stander, Universiteit van Stellenbosch

Nadoktorale genoot, Departement Engels, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika

Published
2020-03-31
Section
Navorsings- en Oorsigartikels