ʼn Beoordeling van die (wan)prestasie van die artikel 185-Kommissie met betrekking tot die regte van gemeenskappe

  • Ernst Roets Universiteit van Pretoria
  • Koos Malan Universiteit van Pretoria
Keywords: Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe, Wet op die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiensen Taalgemeenskappe, kollektiewe regte; gemeenskapsregte (in teenstelling tot individuele regte), Internasionale Komitee vir Menseregte; Internasionale Verbond vir Burgerlike en Politieke Regte (IVBPR), VN se Verklaring oor die Regte van Persone wat behoort tot Nasionale, Etniese, Godsdiens- en Taalminderhede (Declaration on the Rights of Persons Belonging to National or Ethnic, Religious and Linguistic Minorities), VN Development Report van 2004, getiteld Cultural liberty in today’s diverse world, General Comment 23 (van die Internasionale Komitee vir Menseregte)

Abstract

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe voldoen nie aan die verwagting om die regte van gemeenskappe te beskerm nie. Die hoofrede hiervoor is dat die Kommissie nie erns maak met die konsep van regte van gemeenskappe, naas individuele regte nie. Op die keper beskou is die beskerming van gemeenskappe die voorwaarde vir uitoefening van talle oënskynlik eg individuele regte, byvoorbeeld die reg op vryheid van uitdrukking, vryheid van assosiasie, asook regte met betrekking tot taal, kultuur en godsdiens. Dit is belangwekkend dat onlangse ontwikkelings op die gebied van die internasionale reg juis groeiende erkenning verleen aan die beskerming van die integriteit van gemeenskappe ten einde sinvolle beskerming aan individue te verleen. Eerstens vertolk die Internasionale Komitee vir Menseregte die oënskynlik individualistiesgeformuleerde artikel 27 van die Internasionale Verbond vir Burgerlike en Politieke Regte (1966) toenemend kollektief ten einde sodoende die klem op die beskerming van gemeenskappe te plaas. Tweedens, vereis die Deklarasie oor die Regte van Persone wat tot Nasionale-, Etniese-, Godsdienstige- en Taalminderhede behoort (1992) van state om daadwerklike stappe te doen om die betrokke minderheidsgemeenskappe te beskerm. Derdens onderskryf die Verenigde Nasies (VN) se Ontwikkelingsverslag (“Development Report”) van 2004 breedvoerig die beginsel van kulturele vryheid en word daar van state vereis dat hulle huishoudelike reg die kulturele vryheid van gemeenskappe aktief bevorder. Terselfdertyd keer die Verslag staatsbeleid wat kulturele homogenisering meebring onomwonde af. Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrikaanse staatsorgane met inbegrip van die Kommissie van hierdie ontwikkelings kennis neem en dienooreenkomstig optree. Die Kommissie se nalate om juis dit te doen, verklaar in beduidende mate sy eie mislukking.

Author Biographies

Ernst Roets, Universiteit van Pretoria

Doktorale student, Departement Publiekreg, Universiteit van Pretoria

Koos Malan, Universiteit van Pretoria

Departement Publiekreg, Universiteit van Pretoria

Published
2019-09-24
Section
Navorsings- en Oorsigartikels