Vrygelate gevangenes word as gevangenispersoneel aangestel: Kan Suid-Afrika leer by hierdie nuwe internasionale tendens?

Ex-offenders should be appointed as prison wardens: Can South Africa learn from this new international trend?

  • Casper Lötter
Keywords: Personeeltekort, tronkgeweld, kruis-kulturele kriminologie, post-Marxisme, hardestigmatiserend-beskamings- en integrerend-beskamende kulture, Chinese ervaring, Amerikaanse ervaring, werwing van vrygelate gevangenes as tronkbewaarders

Abstract

In die lig van die huidige nypende tekort aan gevangenispersoneel by die Departement Korrektiewe Dienste word opvattinge omtrent die werwing van vrygelate model-oortreders krities ondersoek. As teoretiese raamwerk word ’n kruis-kulturele of vergelykende kriminologiese perspektief sowel as ’n post-Marxistiese metodologie (in die tradisie van Frankfurt Skool Kritiese Teorie), ingespan en daar word ook gepoog om ’n pleidooi vir die belang van hierdie twee perspektiewe vir akademiese kriminologie ter plaatse te lewer. As vertrekpunt word John Braithwaite se belangrike onderskeid tussen hardestigmatiserend-beskamingskulture  (Suid-Afrika, die VSA) en integrerend-beskamende kulture (China, Japan) ontleed ten einde die Chinese gesigspunt, wat reeds sedert die vyftigerjare aldaar suksesvol toegepas word in die werwing van gevangenes na vrylating as tronkpersoneel, te ondersoek. China verteenwoordig die een uiterste (integrasie) van die beskamingskultuurkontinuïteit, terwyl die VSA die ander uiterste (stigmatisering) verteenwoordig. Aangesien korrektiewe dienste in die VSA sedert 2018 tot ’n beperkte mate ook begin het met die werwing van vrygelate gevangenes, kan daar tereg van ’n internasionele tendens in die werwing van vrygelate gevangenes as  gevangenispersoneel gepraat word. Die vraag wat ondersoek word, is of Suid-Afrika, as ’n hardestigmatiserend-beskamingskultuur met een van die hoogste heroortredingsyfers in die wêreld, se korrektiewe beleidsraamwerk by hierdie bemoedigende integrerende inisiatief kan baat. Terselfdertyd word die hoop uitgespreek dat die hoë vlakke van geweld in ons tronke getemper sou kon word deur die vooruitsig dat vrygelate model-gevangenes hoëprestasielewering tot die Departement se hervormingspogings sal kan toevoeg.

Author Biography

Casper Lötter

Postdoktorale beurshouer, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Published
2019-12-11
Section
Navorsings- en Oorsigartikels