Frans Lion Cachet en die herstel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Zuid-Afrikaansche Republiek rondom 1866

Frans Lion Cachet and the restoration of the Dutch Reformed Church in the Zuid- Afrikaansche Republic around 1866

  • Piet Strauss Universiteit van die Vrystaat
Keywords: Kerk kies self naam, verskille oor kerklike belydenisse, breuk deur dominees op spits gedryf, naam “hervormd” geassosieer met teologiese liberalisme, Frans Lion Cachet neem leiding in die herorganisasie van NG Kerk in die ZAR in die 1860’s

Abstract

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) en die Nederduitsch Hervormde Kerk (NH Kerk) in Transvaal of die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) skei finaal in die jare 1865–1866. Hierdie skeiding word by twee kerkvergaderings voltrek: die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Junie 1865 op Rustenburg en die Algemene Kerkvergadering van hierdie kerk in Pretoria in November daardie jaar.

Agterna beskou het die Kommissievergadering van die Algemene Kerkvergadering op Rustenburg die breuk wat by die Algemene Kerkvergadering in Pretoria plaasgevind het,ingelei. Die twee uitstaande redes vir die breuk, naamlik die naam van die kerk en die pleken gesag van sy belydenisskrifte, is in Junie 1865 bespreek en na die Novembervergadering vir ’n beslissing verwys.

Vanaf die kant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk het hul segsman en voorloper, ds. Frans Lion Cachet, daarop gewys dat die naam van die kerk nie deurslaggewend is nie, maar dat die naam “Hervormd” van die Gereformeerde Kerk in Nederland deur diestaatsowerheid met ’n reglement in 1816 aan hom opgelê is. Dit is verkeerd, omdat die kerk self sy naam moet kies. Dieselfde het in die ZAR gebeur waar die Nederduitsch Hervormde Kerk se naam – as staatskerk – sonder enige kennisgewing aan die kerk in artikel 20 van die ZAR-Grondwet van 1855 –1858 bepaal is. Daarby wou Lion Cachet en die NG Kerk dat die belydenisskrifte van die kerk die Drie Formuliere van Eenheid sal wees wat by die gereformeerde Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618–1619 in Nederland aanvaar is. Belydenisse wat aanvaar word omdat die leer daarin vervat in alles met die Skrif ooreenkom.

Vir predikante van die Nederduitsch Hervormde Kerk in die ZAR was hierdie blik op die belydenisskrifte onaanvaarbaar. Met ds. Frans Lion Cachet aan die spits het die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die ZAR in Desember 1866 te Utrecht sy eie koers ingeslaan met sy eerste Algemene Kerkvergadering. Tydens hierdie byeenkoms én by 5 latere algemene vergaderings was ds. Lion Cachet die voorsitter. In 1873 verhuis hy egter uit die ZAR na Nederland. Menslik gesproke, was Lion Cachet die groot dryfkrag agter die herorganisasie van die NG Kerk en sy gemeentes in die ZAR.

Author Biography

Piet Strauss, Universiteit van die Vrystaat

Navorsingsgenoot, Departement Historiese en Konstruktiewe Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein

Published
2019-12-11
Section
Navorsings- en Oorsigartikels